Bavuma skop vas; en reën kan SA nog red

Temba Bavuma skop met 52 lopies vas. (Foto: Twitter via @officialcsa)

Die Proteas se laaste twee paaltjies is Saterdag op nóg ʼn reëndag nie sommer weggegooi soos tydens die kolffiasko Vrydag toe Suid-Afrika op 61/7 gewankel het nie.

Die derde dag se spel is egter weer deur reën onderbreek en spel is uiteindelik voor ete ʼn ruk gestaak en toe sowat drie uur voor uitskeityd vir die dag afgelas.

Net 37 beurte is in die dag geboul.

♦  Met nog 28 lopies nodig om die opvolgbeurt te vermy het Temba Bavuma en Morné Morkel Saterdag vasgeskop en in hulle byna 16 boulbeurte saam die telling met 47 lopies na 161/9 aangeskuif.

Toe het Bavuma saam met Vernon Philander nog 14 lopies om die laaste paaltjie bygedra. Die Proteas was dus almal uit vir 175, ʼn agterstand van 178.

Bavuma se 52 was die beste van die Proteas en het 120 balle geduur. Hy is deur die nuweling-naatbouler Toby Roland-Jones uitgehaal wat daarmee met sy buiging vir Engeland 5/57 geneem het.

♦  Philander is uit die hospitaal ontslaan om te kom kolf en het ook ses boulbeurte sonder sukses en benede sy beste afgestuur. Hy is volgens verklarings nog nie heeltemal reg nadat hy vanaf dag een kort-kort met ʼn maagvirus van die veld is nie.

Alastair Cook (7, op 30/1) is die elfde keer in sy loopbaan deur Morkel uitgehaal, maar die nuweling Tom Westley (28*) het saam met Keaton Jennings (34*) die telling tot 74/1 geneem voordat reën ʼn einde aan die derde dag se spel gebring het.

Engeland is nou 252 lopies voor – en  die reën kan moontlik die Proteas se bondgenoot word om die toets te red.

Klik op die skakel om volledige statistieke en tellings te kry: http://www.espncricinfo.com/series/10718/scorecard/1031441/England-vs-South-Africa-3rd-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.