Bavuma wen eerste wedstryd as T20-kaptein

Temba Bavuma. Foto: Randy Brooks/AFP.

Die Protea-kolwers kon in gister se T20-wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande net ses meer lopies as in die eerste kragmeting bymekaarskraap, maar die span se boulers – en veral hul draaiers – het genoeg gedoen om toe te sien dat hulle met 16 lopies gewen het.

Dit was inderdaad ’n verbetering ná Saterdag se loesing en dit was Temba Bavuma se eerste sege as die Proteas se T20-kaptein, maar daar gaan nog baie water in die see moet loop voordat die span ’n Wêreldbeker-toernooi kan wen.

Tog is T20-krieket ’n onvoorspelbare formaat en een speler se goeie vertoning met die kolf of bal kan ’n wedstryd vir sy span wen.

Quinton de Kock (26) en Reeza Hendricks (42) het 73 lopies binne slegs sewe boulbeurte aangeteken voordat De Kock agter die paaltjies uitgevang is.

Die res van die besoekers se kolwers het egter daarna gesukkel en hulle kon slegs 93 lopies in die oorblywende 13 boulbeurte aanteken. ’n Kagiso Rabada wat op nommer agt vir die Proteas kom kolf, boesem ongetwyfeld nie dieselfde vrees in as ’n Dwayne Bravo op nege vir die Windies nie.

Bavuma het met sy 46 lopies van net 33 aflewerings die span se hoogste telling aangeteken en sy beurt het vyf viere en ’n ses ingesluit.

ʼn Telling van 166/7 was nie veel beter as hul poging in die eerste wedstryd nie en toe Evin Lewis vir George Linde terstond met ’n ses begroet, het dit gelyk asof die skrif weer eens aan die muur vir die Suid-Afrikaners was.

Maar ’n blitsige Anrich Nortjé (1/27) het vir Lewis met ’n kartets van 144 km/h skoongeboul, waarna Rabada (3/37) van die gevaarlike Chris Gayle ontslae geraak het.

George Linde vir die paaltjie van Andre Russell. Foto: Randy Brooks/AFP.

Maar die Proteas se ware boulhelde was Linde (2/19) en Tabraiz Shamsi (1/16). Hulle het gesamentlik agt boulbeurte geboul, slegs 35 lopies afgestaan en drie belangrike paaltjies geneem.

En met Fabian Allen (34 lopies van 12 balle) wat vir Lungi Ngidi (1/49) wild en wakker teen die einde van die wedstryd geslaan het, besef jy net weer hoe ’n belangrike rol die twee draaiers in Suid-Afrika se sege gespeel het.

Anders as in die toetsreeks sukkel Ngidi kwaai in die eerste twee T20-wedstryde. Hy het in sewe boulbeurte reeds 95 lopies afgestaan en kon nog net een paaltjie neem.

  • Die volgende wedstryd in die reeks begin môre om 20:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Of net toetskrieket speel. Dis nie ‘n nuwe ding dat hy so duur is in die korter weergawes van die spel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.