Bedingham, Harmer baljaar in Engeland

David Bedingham (Foto: Durham County Cricket Club/Twitter)

Ná ses wedstryde in Engeland se County-kampioenskap is die Suid-Afrikaans gebore David Bedingham steeds die voorste lopiemaker.

Dié kolwer het in tien kolfbeurte reeds 624 lopies teen ’n gemiddeld van 78 geslaan. Hy is veral sterk op die voorvoet en volgens statistiek het hy meer as 30% van sy lopies met dryfhoue aangeteken.

Toe die 27-jarige Bedingham destyds besluit het om in Engeland te gaan speel, het Ashwell Prince teen Krieket Suid-Afrika uitgevaar.

“Ons kan nie aanhou maak asof daar niks verkeerd is nie. Dit is hoogtyd dat KSA ’n bietjie ondersoek instel en nie doekies omdraai oor waarom spelers loop nie,” het Prince, ’n voormalige Protea-kolwer en huidige afrigter van die Cobras, gesê.

Dan baljaar Simon Harmer soos oudergewoonte tussen die paaltjies en hy het tot dusver die tweede meeste paaltjies in die reeks geneem.

In sewe kragmetings het hy 34 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,67 laat kantel, terwyl hy vir Derbyshire dronk gedraai het om met ’n boulontleding van 9/80 teen dié graafskap te spog.

Hy het reeds twee keer meer as tien paaltjies in ’n wedstryd geneem.

Kyle Abbott (Desember 2016)(Foto: AFP Photo/Gianluigi Guercia)

Nog een van die Protea-spelers wat destyds ’n Kolpak-kontrak onderteken het, Hampshire se Kyle Abbott, is ook aan die brand in die kampioenskap.

Die 33-jarige snelbouler spog in sy afgelope twee wedstryde met puik boulsyfers van 6/44 en 6/47. Hy is tans die derde beste bouler in die reeks met sy 33 paaltjies.

Hashim Amla, wat vir Surrey speel, kon sedert sy pragbeurt van 215* nog net 44 lopies in die twee daaropvolgende kragmetings aanteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.