Ben sal Engeland se krieketvuur moet stook

Ben Stokes. Foto: (Mike Egerton/PA via AP)

Ná sy loesing in die Reeks om die As was Engelse krieket omtrent in ’n verknorsing: Chris Silwerwood het die trekpas as afrigter gekry, terwyl Joe Root ook afstand van die kapteinskap gedoen het.

Een van Rob Key – die nuwe direkteur van krieket nadat Ashleigh Giles óók gewaai het – se pligte was om ’n nuwe toetskrieketkaptein aan te wys.

En daar is op Ben Stokes besluit.

Die Engelse hou immers van Stokes: Hy was al twee keer agtereenvolgens Wisden se speler van die jaar, hy het ’n leidende rol in Engeland se Wêreldbeker-triomf gespeel en hy het die Aussies al wild en wakker gemoker (behalwe in die onlangse reeks, natuurlik).

Dan beskou Root hom as ’n superheld en sommige joernaliste dink hy is selfs beter as ’n sekere Jacques Henry Kallis.

Kortom, die Nieu-Seelandse boorling is ’n hedendaagse koning Arthur wat toevallig kan krieket speel; die man wat die Britte uit die donker eeue na toetsglorie moet lei.

“Ek het nie gehuiwer om Ben die rol van toetskaptein aan te bied nie. Hy is die versinnebeelding van die rigting wat ons met ons toetsspan wil inslaan en ek is baie bly dat hy die pos aanvaar het. Hy verdien dit,” het Key gesê.

Sy taak gaan egter glad nie maklik wees nie. Engeland kon net een van die laaste 17 toetse wen en die span is boonop tans afrigterloos: Stokes sou glo nie lekker met Justin Langer saamgewerk het nie.

“Dit is ’n groot eer om Engeland op die veld te lei en ek is opgewonde oor die vooruitsig. Terselfdertyd wil ek vir Joe (Root) bedank – hy het ’n sleutelrol in my ontwikkeling as speler en leier gespeel en hy sal steeds een van my raadgewers bly.”

Maroela Media het vroeër berig dat Gary Kirsten en Graham Ford op die kortlys is om die volgende Engeland-afrigter te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.