Ben wil ook Engeland se As-vuur stook

Engeland se Ben Stokes. (Foto: Marty Melville/AFP. )

Ben Stokes se versoek vir die Reeks om die As is eintlik heel eenvoudig: Hy soek vinnige, mak kolfblaaie wat Engeland se aggressiewe spel bevorder.

Onder Stokes en Brendon McCullum se toesig het Engeland amper eiehandig die benadering tot toetskrieket verander: Vergeet van vervelige wedstryde wat onbeslis eindig; nou word daar gespeel om ʼn uitslag af te dwing.

En moet ook nie dink dat die Engelsmanne van hul onverskrokke pad sal wyk bloot omdat hulle in ʼn geskiedkundige reeks teen Australië gewikkel is nie.

“Wen of verloor; ons sal op só ʼn manier speel dat nie een van die toetse in die Reeks om die As onbeslis eindig nie. Dit maak nie saak wat die telling is of hoe die situasie lyk waarin ons onsself bevind nie; ons benadering sal nie verander nie.”

Engeland het tien van sy 12 toetse onder Stokes se leiding gewen en hulle het vroeër amok in Pakistan gemaak.

Die besoekers het toe teen ʼn tempo van meer as vyf lopies per boulbeurt gekolf, terwyl Harry Brook as ʼn middelordekolwer geskitter het.

Die jong speler het 468 lopies teen ʼn gemiddeld van 95 aangeteken. Sy drie honderdtalle het gesorg dat Engeland die reeks op ʼn drafstap gewen het.

Hoewel die nuwe Engelse benadering tot die spel vir hope vermaak sorg, is iemand soos Steve Smith maar nog ʼn bietjie skepties.

“Selfs iemand soos Alex Lees het uit sy kolfkampie gestorm toe hy nog nie baie lopies agter sy naam gehad het nie. Dit is beslis opwindend, maar ek weet nie so mooi of dit volhoubaar is nie,” het die Australiese kolwer gesê.

“Gaan hulle dieselfde kan doen op ʼn groen blad wanneer boulers soos Pat Cummins en Mitchell Starc op alle suiers vuur? Ek weet darem nie so mooi nie.”

Bepalings:

16 tot 20 Junie: Eerste toets op Edgbaston

28 Junie tot 2 Julie: Tweede toets op Lord’s

6 tot 10 Julie: Derde toets op Headingley

19 tot 23 Julie: Vierde toets op Old Trafford

27 tot 31 Julie: Vyfde toets op die Oval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.