Besering(s) sal Proteas se spankeuse beïnvloed

Temba Bavuma (Twitter @officialcsa)

Met kolfblaaie wat feitlik net so ʼn belangrike rol in spankeuse as die spelers se peil speel – hoewel SuperSportpark moontlik verkeerde spankeuses tot gevolg gehad het – moet die Proteas se keurders voor Woensdag weer raakvat.

Die reeks teen Indië is met twee oorwinning reeds Suid-Afrika s’n, maar die Wandererskolfblad vir die derde toets sal heelwat anders reageer selfs as die een wat vir Centurion aangevra maar nie voorsien is nie.

Otis Gibson-hulle sal daarom heel moontlik hierdie keer met sewe kolwers en net vier spesialisboulers waag. Dit is ʼn besluit wat moontlik sterk deur die swak kolfpeil van die paaltjiewagter Quinton de Kock beïnvloed sal word.

Keshav Maharaj, wat maar min boulkans in die eerste twee toetse gekry het, sal die man wees wat plek maak vir die ekstra kolwer.

Wie dít sal wees, sal afhang van die fiksheid van die aanvangskolwer Aiden Markram. Hy het las van ʼn bobeenspier.

As hy nie kan speel nie, sou Temba Bavuma stellig weer ʼn kans gekry het om die beurt te open. Maar hy het ʼn gekraakte vinger en sal drie tot vier weke nie kan speel nie.

Daar is besluit om hom nie in die groep te vervang nie.

Dit beteken dat Theunis de Bruyn, die enigste oorblywende kolwer in die groep, in sy vierde toets sal speel as Markram nie betyds fiks is nie.

De Bruyn het sy buiging as aanvangskolwer gemaak, maar nog nie in sy ses kolfbeurte tot dusver oortuig nie.

Sou hy wel as aanvangskolwer moet diens doen, kan Gibson-hulle dalk besluit om te bly by die ses spesialiskolwers. Is Markram fiks, sal De Bruyn die sewende kolwer wees as Gibson op daardie opsie besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.