Beseringsterugslae, maar Proteas vat Engelse vas

Morné Morkel – weer min sukses vir uitstekende boulwerk (Facebook Morné Morkel)

Dit was ʼn dag se spel waarop die Proteas met reg trots kan wees ná twee groot terugslae Vrydag kort voor die aanvang van die vierde toets teen Engeland op Old Trafford in Manchester.

Engeland het ná die eerste dag se spel 260/6 gehad nadat hulle besluit het om te kolf. Hulle sou ongetwyfeld gehoop het op ʼn stewiger totaal teen ʼn span wat sonder twee beseerde boulers moes klaarkom.

Donderdag was daar nog so ʼn effense onsekerheid of die rugspasmas van Vernon Philander hom sou toelaat om te speel. As Philander fiks verklaar is, sou Theunis de Bruyn hoogs waarskynlik as ʼn ekstra kolwer plek gekry het in die plek van Chris Morris; as daar egter vrese was dat Philander weer meer ván die veld as daarop sou wees soos verlede week met sy maagaandoening, sou Morris waarskynlik gespeel het.

Maar toe het Morris óók rugprobleme en moes die Proteas nie net vir De Bruyn insluit nie, maar ook vir Duanne Olivier.

Olivier was ʼn aangename verrassing. Ná sy eina-vertoning in die tweede toets toe hy swaar gestraf is en veral met sy lengte gesukkel het, het hy Vrydag met beheer en ook venyn gebou en twee paaltjies vir 72 lopies in sy 19 beurte geneem. Die los bal hier en daar kan hom vergewe word.

Held van die dag was seker Keshav Maharaj. Hy het tussen etenstyd en teetyd ononderbroke van die een kant  geboul en uiteindelik 29 van die 90 boulbeurte afgestuur om die drie snellers, Olivier, Morné Morkel en Kagiso Rabada ruskans te gee.

Rabada het Vrydag met vuur en beheer weer gelyk na die man wat in sy eerste twee seisoene so naam gemaak het, en het die Engelse opmars in die voorlaaste boulbeurt met ʼn skitterende streepbal na Ben Stokes gestuit; Morkel was eenvoudig skitterend in ʼn toetsreeks waar hy beter verdien het met moontlik sy beste boulwerk van die afgelope sewe of agt jaar.

Hy het die kolf seker 20 keer geklop, maar randjie bykry, kon die Engelse kowers net eenvoudig nie. Yslike frustrasie, pragtige boulwerk.

De Bruyn het self vyf beurte afgestuur en was ook redelik suinig met sy lopies afgestaan. Saam met die hoofboulers het hy gesorg dat Engeland minder as drie lopies per boulbeurt op die eerste dag aangeteken het.

Die kolfblad was effens natterig en dus aan die stadige kant, maar het vir heelwat beweging van die blad gesorg. Die verwagting is dat dit Saterdag vinniger en harder sal wees en die kolwers beter sal vaar.

Dus, ʼn pluspunt vir Suid-Afrika wat Saterdag moet kolf. Maar eers moet hulle Engeland se laaste vier paaltjies neem … hopelik vir min lopies.

Vir die rekord, so het die Proteas se boulers gevaar (boulbeurte, leës, lopies afgestaan, paaltjies):

Morkel 19-4-58-1; Rabada 18-5-52-2; Olivier 19-3-72-2; Maharaj 29-9-54-1;
De Bruyn 5-0-18-0.

Vir Engeland het Alastair Cook (46) ondanks sy gesukkel teen Morkel, Joe Root (52), Stokes (58) en Bairstow (33*) die meeste met die kolf bygedra.

Klik op die skakel om die volledige telkaart en statistieke te sien: http://www.espncricinfo.com/ci/content/player/11728.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.