Beweerde balknoeiery: SA krieketkaptein kan toets misloop

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Faf du Plessis, Suid-Afrika se waarnemende krieketkaptein in die plek van AB de Villiers, is in die pekel oor beweerde balknoeiery en kan moontlik die derde kriekettoets teen Australië misloop.

Dié toets, die sogenaamde pienkbal-toets, begin op 24 November in Adelaide. Die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter, Dave Richardson, wat nou die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR) is, het Du Plessis aangekla.

Die IKR sê in ʼn verklaring die voorval het Dinsdagoggend, die vierde en laaste dag van die toets, plaasgevind. Die liggaam sê die televisiebeeld wys duidelik hoe Du Plessis speeksel van ʼn peperment – ʼn kunsmatige middel in die konteks van balversorging op die veld – aan die bal smeer, met die doel om die toestand en dus die ‘gedrag’ van die bal te verander.

Soos die toeval dit wou hê, is ʼn paaltjie met die volgende bal geneem.

Du Plessis is in Oktober 2013 skuldig bevind aan balknoeiery tydens ʼn toets teen Pakistan en is met 50% van sy wedstrydgeld beboet.

Du Plessis het egter skuld ontken oor Dinsdag se voorval. Die wedstrydskeidsregter, Andy Pycroft, sal die saak aanhoor, maar ʼn datum daarvoor is nog nie vasgestel nie.

ʼn Vlak 2-oortreding van die gedragskode dra die straf van ʼn boete van 50-100% van die wedstrydfooi, plus ʼn moontlike skorsing. Krieket Australië het nie die klag aanhangig gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Willie ·

Is daar nie nog so x 10 spelers wat iets snaaks gedoen het nie, hulle kan dalk geskors word vir die volgende game en Australie die kans gee om dalk te wen??? belaglik!!

Columbiana ·

Wat op aarde kan bietjie mint aan die bal doen? Lig in asb

MH ·

Dit gaan nie oor die mint nie, dit gaan oor die verbreking van die reël dat ‘n speler nie enige middel behalwe sweet en speeksel aan die bal mag smeer nie.

Grant ·

Hulle gaan jammer wees as SA vir Rilee kies dan gaan hulle nog verder verloor!

Marianne ·

Speeksel van ‘n peperment…. Regtig? Asof DIT nou ‘n bal sal verander.
Dis suur druiwe amen en klaar. As een span verloor sal die ander span ‘n swart kol erens he om dit te staaf.

Freud ·

Marianne
Duidelik ken jy nie die reels nie en weet jy nie dat jy wel ‘n krieketbal se ‘gedrag’ kan verander deur iets taai op te smeer. Die krieketspelers smeer wel speeksel op die een kant van die bal en vryf daardie kant teen hulle broeke om die een kant van die bal blink en glad te hou. Deur enige iets anders as net speeksel op te smeer maak hy hom skuldig aan die reels.
Snaaks dat Aus nie die saak aanhangig gemaak het nie maar wel ‘n voormalige paaltjiewagter van Suid-Afrika en dus is dit nie suur druiwe nie maar wel ‘n saak wat die ICC aanhangig gemaak het.

MH ·

Die klag is nie deur die Australiese span gelê nie maar deur die Internasionale Krieketraad.

JackRussel ·

Ek weet baie spelers probeer die bal blink vryf met ‘n bietjie speeksel. Ek self verstaan die hoe die peperment ‘n groter invloed gehad het nie, maar op die video kan ‘n mens duidelik sien dat hy sy vinger goed op die peperment vryf en dan aan die bal.

Plus dit is nie die eerste keer wat hy verdink word nie. Hy het ‘n ruk terug “vergeet” dat sy broeksak ‘n zip ingehad het toe hy die bal probeer blinkvryf.

JackRussel ·

Dave Richardson moet dit seker ondersoek anders word daar weer gekla dat hy partydig is.

Niemand het dit aangemeld binne die 18 ure na die toets soos wat die reels bepaal nie. Die media het deur die toets gegrawe om iets te kry. Hulle het toe op dit afgekom en die video is seker oor en oor gespeel totdat die IKR besluit het om dit te ondersoek.

My mening is dat hulle hom moet skors vir die wedstryd, dalk sal dit hom leer. Hy was eenmaal onder verdenking en nou gee hy die mense weer skietgoed.

Freud ·

Maroela Media
Het hy skuld of het hy skuld ontken? Ek is nou bietjie in die war.

Landi Slatter ·

Dagsê Freud en Kiepie

Dankie vir julle terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit lees nou ‘..egter skuld ontken…’

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Kiepie ·

Wat beteken die eerste sin van die tweede laaste paragraaf? “Du Plessis het egter skuld oor Dinsdag se voorval.”

Gerhard ·

Dan moet daar moet ook n’ klag teen al die kougomkouende Ausies gelê word, of dit nou mint kougom of aarbei geur is…sommer n’ klomp snert Dave Richardson

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.