‘Big Show’ kan nie wag om saam met AB te speel

AB de Villiers en Glenn Maxwell. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

Glenn Maxwell, die Australiese warrelwind-kolwer, sê hy kan nie wag om saam met AB de Villiers vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) in die Indiese Premierliga te speel nie.

Die “Big Show”, soos wat hy in die krieketwêreld bekend staan te danke aan sy hope selfvertroue en buitensporige houe, is verlede week deur RCB vir die komende toernooi opgeraap. ’n Kolflys van Virat Kholi, De Villiers en Maxwell sal waarskynlik enige boulaanval hoofbrekens gee.

Maar die 32-jarige Aussie sê dat hy die meeste daarna uitsien om saam met De Villiers te kolf.

“AB is een van my helde en dit sal wonderlik wees om saam met hom te werk. Hy was nog altyd baie hulpvaardig en dit is baie lekker om in dieselfde span as hy te wees,” het Maxwell gesê.

Die Suid-Afrikaner het onlangs sy 37ste verjaardag gevier en hy is een van die gewilde mik-en-mokertoernooi se supersterre.

In verlede jaar se skouspel het hy 454 lopies teen ’n verstommende treftempo van 158,74 geslaan. In die proses het hy 23 sesse oor die grenstou gestuur en ’n wedstryd of twee in drukkokersituasies vir sy span gewen.

Daarbenewens is hy deur kenners as die beste kolwer in die geskiedenis van die IPL aangewys, terwyl Ravi Shastri, Indië se nasionale krieketafrigter, gesê het dat hy De Villiers terug op die internasionale verhoog wil hê.

“In hierdie moeilike tye het wêreldkrieket AB de Villiers nodig,” was Shastri se woorde.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, het onlangs gesê dat die deur nie toe is vir immergroen spelers soos De Villiers, Dale Steyn, Chris Morris en Imran Tahir om weer deel van die Protea-aksie in die komende T20-wêreldbeker te word nie.

Mits hulle natuurlik presteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.