Binnemuurse krieket: Vrouespan wil beker huis toe bring

vroue-krieketspan-7

Foto: South African Indoor Cricket Ladies 2017

Binnemuurse krieket is ʼn sport wat deur talle vroue beoefen word, maar nie eintlik veel ondersteuning geniet in Suid-Afrika as dit kom by borge of die media nie.

“Ag, ek dink daai stigma dat vroue net aan sekere sportsoorte mag deelneem, sal altyd daar wees,” sê Michael Wenk, spanbestuurder van die SA Binnemuurse Vrouekrieketspan.

Maar Michael en sy span steur hulle nie vreeslik aan stigmas nie en fokus op die spel. Die span neem vanjaar deel aan die wêreldbekertoernooi in Dubai van 15-23 September en oefen daarom reeds toegewyd.

Deelnemende lande sluit Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Wallis in. Michael sê Australië se vrouekrieketspelers presteer veral baie goed omdat dit ʼn sport is wat in sy land erken word asook baie ondersteuning geniet.

Afgesien daarvan dat dié span moet spartel om geld bymekaar te kry om internasionaal te kan deelneem, moet hy ook teen rassekwotas baklei, aangesien borge dié span wegwys omdat die “profiel” nie reg is nie.

“Ons word altyd gevra hoekom ons betrokke is by die vrouespan. Ons is betrokke, want dit is waar ons ʼn verskil kan maak,” sê Michael.

Ten spyte van talle uitdagings presteer die span goed en die vroue, wat almal voltyds werk, se passie is duidelik as dit kom by dié sport.

“Ek was nog altyd ʼn sportiewe mens, en my boetie het my van kleintyd vreeslik puntenerig geleer oor die regte tegnieke. Dit is ʼn liefde waarmee ek grootgeword het,” sê Rozanne Cloete, ʼn speler in dié span.

Rozanne gee ook raad aan jonger vroue wat graag hierdie sport wil beoefen.

“Jy gaan baie raad van ʼn klomp mense ontvang, maar volg jou intuïsie. En wanneer jy op daai veld is, moet jy jouself sielkundig gereed maak,” sê Rozanne.

As jy ook graag aan dié gewilde sport wil deelneem, of sommer die vroue se vordering wil dophou, besoek gerus hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louisa ·

So trots op ons dames!!! Wens rerig mense wil hulle harte en beursie oop maak want elke rand help hulle om ons Land se naam hoog te hou. Want weet hulle gaan goed doen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.