Blitsbokke loop hul rieme styf in groepronde

springbok-sevens-greenDie Blitsbokke, rammetjie-uitnek na verlede naweek se oorwinning in die Nieu-Seelandse toernooi, het Saterdag in die groepronde van Wêreldrugby se sewesreeks in Sydney hul rieme styfgeloop.

Dit is die einste Engeland wat die Suid-Afrikaners in die eindstryd van die toernooi in Kaapstad verlede jaar geklop het, wat hulle in die tweede plek in groep A ingedwing het.

Suid-Afrika kom nou Sondagoggend in die kwarteindstryd (03:42) teen die VSA te staan.

Engeland het die Blitsbokke Saterdag 21-15 gewen in ’n wedstryd waarin dit gelyk het asof die Suid-Afrikaners nie heeltemal aangeskakel was nie.

Suid-Afrika het nog `n beseringsterugslag gehad met een van hul grootste angels agterlangs, Werner Kok, wat weens `n kuitbesering vir die duur van toernooi deur die reserwe Stephan Dippenaar vervang moes word.

Die Engelse se eerste drie het gekom na Phil Burgess die bal nonchalant aan die Blitsbokke se kant by ’n losskrum opgetel en na ʼn lang lopie gaan druk het. Dit het onkant gelyk, maar hy was die man wat die duikslag uitgevoer het en geen losskrum is boonop gevorm nie.

Nie eens drieë deur Chris Dry, Justin Geduld en Seabelo Senatla kon ’n oorwinning aan die Blitsbokke besorg nie. Dit het hulle wel 15-14 laat voorloop, maar drie verbroude doelskoppe teenoor die drie wat Engeland wel behaal het, het die verskil gemaak.

Die Engelse het die oorwinning verseker omdat hulle skitterende agterspel, wat ’n puik fopaangee ingesluit het, opgedis het.

♦  In die Suid-Afrikaners se eerste wedstryd Saterdagoggend het hulle Japan gemaklik 32-0 gewen. Die Blitsbokke se spoed, flair en spoed waarmee hulle op die losbal toegesak het, was te veel vir Japan.

Senatla het drie keer gaan druk en Kwagga Smith, Shakes Soziwapi en Werner Kok het ook agter die doellyn gaan kuier.

♦  Kenia het in die Blitsbokke se tweede wedstryd amper daarin geslaag om met ’n fisieke aanslag die Suid-Afrikaners te laat oorrompel.

Die Oos-Afrikane was rustyd ook welverdiend 7-0 voor. Hulle het die stryd om die losbal gewen, maar op die einde was dit ’n briljante Senatla wat twee keer gaan druk het om die Blitsbokke 14-7 te laat seëvier.

Bepalings vir Sondag se kwarteindstryde –

02:58 Engeland vs Argentinië
03:20 Nieu-Seeland vs Fidji
03:42 Suid-Afrika vs VSA
04:04 Wallis vs Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.