Blitsige Anrich een van min hoogtepunte

Anrich Nortjé en Aiden Markram vier ’n paaltjie. Foto: © Christiaan Kotze/C Photographic Agency.

Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé is vir ses toekennings by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse meriete-geleentheid benoem.

Die 27-jarige Oos-Kapenaar se spel was inderdaad een van die min hoogtepunte in ’n moeilike jaar vir die Proteas.

Hy het die meeste paaltjies (20) vir die Suid-Afrikaners in toetse geneem, terwyl hy in sy laaste twee internasionale eendagkragmetings teen Pakistan met boulsyfers van 4/51 en 3/63 gespog het.

Hy kan onder meer met die gesogte toekenning as die speler van die jaar wegstap. Ander benoemdes in hierdie kategorie is Temba Bavuma, Rassie van der Dussen en Aiden Markram.

Nortjé beïndruk gereeld met sy vaart, aggressie en – soos in die Rawalpindi-toets teen Pakistan waar hy 5/56 geneem het – bittereinder-houding.

Hy het ook al opslae in die Indiese Premierliga gemaak waar sy kartets van 156,22 km/h die vinnigste aflewering in die toernooi se geskiedenis is.

Onder die nasionale vrouespelers het Shabnim Ismail die meeste benoemings. Sy was een van die Proteas se sterre in hul spogvertonings teen Pakistan en Indië.

Benoemdes

Krieketspeler van die jaar (mans)

Anrich Nortjé, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen en Aiden Markram.

Krieketspeler van die jaar (vroue)

Shabnim Ismail, Lizelle Lee, Suné Luus en Laura Wolvaardt.

Ondersteuners se speler van die jaar

Shabnim Ismail, Lizelle Lee, Janneman Malan, Nonkululeko Mlaba, Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Kyle Verreynne en Laura Wolvaardt.

Eendagkrieketspeler van die jaar (vroue)

Shabnim Ismail, Marizanne Kapp, Lizelle Lee en Laura Wolvaardt.

T20-speler van die jaar (vroue)

Anneke Bosch, Tazmin Brits, Shabnim Ismail en Suné Luus.

Aflewering van die jaar

Shabnim Ismail, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Wiaan Mulder, Anrich Nortjé en Lutho Sipamla.

Toetskrieketspeler van die jaar

Temba Bavuma, Dean Elgar, Aiden Markram en Anrich Nortjé.

Eendagkrieketspeler van die jaar (mans)

David Miller, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo en Rassie van der Dussen.

T20-speler van die jaar

Janneman Malan, Aiden Markram, Tabraiz Shamsi en Rassie van der Dussen.

Nuweling van die jaar

George Linde, Janneman Malan en Lizaad Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.