Blitsige Anrich wil nóg vinniger

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

“Vinnig, vinniger, Anrich Nortjé …”

Toegegee, ’n mens se Afrikaans-juffrou sou waarskynlik na die boegoebrandewyn gegryp het as jy met só ’n juweel in jou laerskool-eindeksamen vorendag sou gekom het, maar die letterlike moontlikheid van hierdie Afrikaanse taalverskynsel is nie te vergesog nie.

Sedert Anrich Nortjé verlede week met sy aflewering van 156,22 km/h teen die Rajasthan Royals die rekord vir die vinnigste aflewering in die geskiedenis van die Indiese Premierliga verbeter het, is Shoaib Akhtar se spoedrekord van 161,3 km/h vierkant in sy visier.

“Dit is iets wat hopelik binne my bereik is en iets wat ek graag sal wil doen. Dalk, wanneer alles lekker saamspeel, is dit ’n prestasie wat ek in die toekoms kan vermag,” het die Suid-Afrikaner op Ravichandaran Ashwin se YouTube-kanaal gesê.

Die Rawalpindi-sneltrein is die enigste bouler om twee keer in sy loopbaan vinniger as 160 km/h (100 myl per uur) te boul en op ’n sonnige dag in Februarie 2003 was Engeland se Marcus Trescothick aan die ontvangkant van een van Akhtar se kartetse in hul Wêreldbeker-kragmeting op Nuweland.

Shoaib Akhtar in aksie. Foto: Twitter.

Maar dit was 17 jaar gelede en buitendien: Vandag se rekord is immers môre se standaard.

Sedert die 26-jarige Oos-Kapenaar sy internasionale buiging verlede jaar gemaak het, is hy ongetwyfeld een van die ligpunte in ’n andersins donker Suid-Afrikaanse kriekettonnel.

In 13 internasionale wedstryde (toets- en eendagwedstryde) het hy reeds 33 paaltjies geneem en ontleders met sy vaart en kanniedood-houding beïndruk.

Daarbenewens voel hy dat hy die spoednaald selfs verder in die rooi teen die Royals kon druk; as hy maar net bewus was van die feit dat hy ’n kartets teen 156 km/h afgevuur het.

“Ek het van niks geweet tot ná die wedstryd nie – die snelhede het nie op die telbord verskyn nie. Ek dink dit [om die spoed te sien] sou my selfs meer aangevuur het.”

Tog is nie almal ewe beïndruk met Nortjé se heldedade nie.

“Om 150 km/h te boul is nie juis iets om oor opgewonde te raak nie. Sir Curtly Ambrose, Brett Lee, Waqar Younis en Shane Bond het almal gereeld so vinnig geboul,” het die voormalige Pakistanse krieketspeler, Rashid Latif, op Twitter gesê.

Maar al is ’n aflewering van 150 km/h vir iemand soos Latif alledaags, is Nortjé ongetwyfeld besig om die spoednaald al verder in die rooi te druk.

En dit is ’n goeie ding vir wêreldkrieket.

Die top-10 vinnigste boulers:

  1. Shoaib Akhtar (Pakistan): 161,3 km/h
  2. Brett Lee (Australië): 161,1 km/h
  3. Shaun Tait (Australië): 161,1 km/h
  4. Jeff Thomson (Australië): 160,6 km/h
  5. Mitchell Starc (Australië): 160,4 km/h
  6. Andy Roberts (Wes-Indië) 159,5 km/h
  7. Fidel Edwards (Wes-Indië): 157,7 km/h
  8. Mitchell Johnson (Australië): 156,8 km/h
  9. Mohammad Sami (Pakistan): 156,4 km/h
  10. Shane Bond (Nieu-Seeland): 156,4 km/h

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-Man

Wat is die kanse dat hy by ons sal bly, ontwikkel en ontgin word?

Robert

….en Dale Steyn?