Blitz laat Jozi se sterre struikel

Dale Steyn. (Argieffoto: IANS)

Die 2019-weergawe van die Mzansi Superliga het teen ’n stewige pas afgeskop, met 411 lopies wat in Vrydagaand se openingwedstryd tussen die Jozi Stars en die Cape Town Blitz op die Wanderers geslaan is.

Die Stars het so byna ’n haas uit die hoed gepluk in hul poging om Blitz se allemintige telling van 213/5 verby te steek, maar die ervare Dale Steyn het ’n stokkie voor hul planne gesteek en hulle het uiteindelik met 15 lopies verloor.

Die tuisspan was goed op koers met die telling op 187/3 in die 18de boulbeurt, maar Steyn (3/25) het van die gevaarlike Reeza Hendricks (80 van 53 balle) ontslae geraak om die wedstryd buite die Stars se bereik te plaas.

So van Hendricks gepraat: Die twee spanne se openingskolwers het ʼn mens darem effense hoop vir die Protea-toekoms gegee. Hendricks se Blitz-eweknie, Janneman Malan, het ’n onoorwonne 99 van slegs 59 aflewerings geslaan.

Ander kolfsterre soos Quinton de Kock (35 van 21 balle), Moeen Ali (25 van 17 balle), Chris Gayle (17 van 13 balle), Temba Bavuma (38 van 15 balle) en Rassie van der Dussen (31 van 21 balle) se beurte het belowend gelyk, maar is kortgeknip net toe hulle op dreef gekom het.

Op die boulfront het Kagiso Rabada (4-38-0) en Duanne Olivier (2-32-0) gesukkel.

  • Gister se wedstryd tussen AB de Villiers se Tshwane Spartans en Alex Hales se Durban Heat op Kingsmead het uitgereën.
  • Vandag speel die Paarl Rocks teen die Blitz om 10:00, terwyl die Nelson Mandela Bay Giants hul veldtog om 14:00 teen die Stars begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

Steyn is te beseer om vir SA te speel, maar speel hier sy hart uit. Mammon?

Joe ·

@Koos, so ook Faf wat eerder in Engeland agterbly om T20 te speel, plaas van om vir die Proteas te speel. Steyn was ook reg vir die Indie toer, hy het net nie span gemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.