Boeiende toets wag, ondanks SA-reekssege

Quinton de Kock in aksie. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Quinton de Kock in aksie. Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Al het Suid-Afrika reeds die drietoetsreeks teen Sri Lanka gewen, is daar steeds heelwat op die spel in die derde toets wat Donderdag op die Wanderers begin.

Suid-Afrika, nou derde op die toetskrieket-ranglys, sal graag skoonskip wil maak met drie toetsoorwinnings, terwyl Sri Lanka alles in die stryd sal werp om darem ʼn tikkie aansien te herwin.

Van die interessanthede in die toets is die gegewe dat Suid-Afrika sy span moet verander, aangesien Kyle Abbott nie meer beskikbaar is nie.

Die nuweling, Duanne Olivier, is by die groep ingesluit, maar dit beteken nie hy sal speel nie. Wayne Parnell, wat van die begin van die reeks in die groep was, het nog nie ʼn kans gehad om sy vermoëns ten toon te stel nie. Die Wanderers se kolfblad  mag net die ware Jakob wees vir die linkerhandse snelbouler om sy staal te toon.

Parnell het in sewe jaar as internasionale speler nog net in vier toetse gespeel, hoofsaaklik weens beserings, maar ook oor die gehalte snelboulers wat hy uit die saal moes lig.  Met Morné Morkel en Dale Steyn tydelik uit die prentjie, is dit moontlik sy kans om te skitter.

Hy het juis die naweek in die franchise-reeks vir die Cobras teen die Lions ses paaltjies geneem en sommer sy bedrewenheid met die kolf met ʼn honderdtal onderstreep.

Tradisioneel is die Wanderers se kolfblad vol wip en ideaal vir snelboulers, maar die voorbereiding van die blad is deur die eendeweer in die wiele gery. Die wip in die kolfblad, waarvoor Sri Lanka se kolwers so versigtig is, sal waarskynlik effens minder wees, maar die bal sal meer van die naat af beweeg – en ook neig om so effens ‘vas te sit’ en nie vinnig van die blad af deur te kom nie.

Voeg daarby die moontlikheid van bewolkte weer en die swaai van die bal word ʼn verdere uitdaging vir die kolwers.

Suid-Afrika het die opsie om vier snelboulers te gebruik, maar dit is onwaarskynlik. Maar wie sal dit wees as hulle net drie kies? Parnell of Olivier?

Die groentjie se insluiting in die toetsgroep is moontlik om hom kans te gee om sy voete in die atmosfeer van internasionale krieket te vind en hy sal sekerlik in die eendagwedstryde sy debuut maak, indien dit nie in die derde toets gebeur nie.

♦  Hashim Amla bereik met die toets ʼn belangrike mylpaal in sy krieketloopbaan. Dit is sy 100ste toets en hy sal graag ʼn goeie kolfbeurt wil speel, aangesien hy in die laaste vyf toetse nog nie ʼn vyftigtal aangeteken het nie en die Wanderers hom nog meestal goedgesind was.

Sy uitstekende Wanderers-gemiddelde van 49,46, net-net beter as sy algehele gemiddelde (49,45), verbloem die feit dat hy net twee honderdtalle en vier vyftigtalle in 17 beurte op die Wanderers aangeteken het. En boonop vier keer vir vyf of minder lopies uitgehaal is en sewe keer vir minder as 20.

Maar krieket is nou maar eenmaal so: jou prestasies wissel van beurt tot beurt. En die woord gemiddelde dui straks daarop dat Amla, een van SA krieket se  héél grotes die afgelope jare, na sy rits swak onlangse vertonings reg is vir ʼn groot beurt.

Sri Lanka beskik oor ʼn goeie boulaanval, maar hul kolwers het tot dusver nie die geduld en tegniek getoon om beter vennootskappe te bou nie. Die reën is sekerlik die sterkste faktor wat die Proteas kan verhinder om ook die derde toets te wen en Faf du Plessis-hulle sal self as kolfspan wil wys dat hulle wél kan voortbou op ʼn goeie begin tot hul kolfbeurte.

Boonop is daar die geelwortel van ʼn skoonskipreeks.

Spel begin om 10:00.

Die spangroepe –

Proteas
Faf du Plessis (kapt.), Hashim Amla, Temba Bavuma, Stephen Cook, Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, JP Duminy, Dean Elgar, Keshav Maharaj, Duanne Olivier, Wayne Parnell, Vernon Philander, Kagiso Rabada.
Sri Lanka
Angelo Mathews (kapt.), Dinesh Chandimal, Dimuth Karunaratne, Kaushal Silva, Kusal Perera, Dhananjaya de Silva, Kusal Mendis, Upul Tharanga, Dushmantha Chameera, Suranga Lakmal, Lahiru Kumara, Nuwan Pradeep, Vikum Sanjaya Bandara, Rangana Herath, Dilruwan Perera.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.