Bomskok: Proteas almal uit vir 95!

Matt Henry het sewe Protea-kolwers terug na die kleedkamer gestuur. Foto: Marty Melville/AFP.

In 1953 was sir Edmund Hillary (’n Nieu-Seelander) die eerste man om op die piek van Berg Everest te staan.  Druk nou die versnelknoppie na 2022 en die Protea-krieketspan het hul eie Everest om in Christchurch uit te klim.

Die Suid-Afrikaners is vir net 95 lopies op ’n groen baanblad uitgeknikker nadat die Kiwi’s se Tom Latham die loot gewen het en – sonder dat hy twee keer daaroor moes dink – besluit het om eerste te boul.

Ja, die Proteas se kolfwerk lyk beter vandat Dean Elgar die kapteinskapleisels vasgevat het, maar hulle het vandag geen antwoorde op Matt Henry se tergende vrae gehad nie.

Die Nieu-Seelandse snelbouler het met sy vaart, swaai en wip beïndruk om met ’n uitstekende boulontleding van 7/23 te spog.

Sodoende was al die Protea-kolwers binne ’n japtrap weer terug in die kleedkamer – 95 is hulle laagste telling nóg teen die Kiwi’s; ’n land teen wie hulle al vir 90 jaar krieket speel.

Boonop het die Nieu-Seelandse kolwers verdere sout in die Suid-Afrikaners se wonde gevryf toe hulle sommer binne 34 boulbeurte die Proteas se eerstebeurttelling verbygesteek het.

Die besoekers het ’n futlose veldwerkvertoning gelewer en vier vangkanse verbrou. Wanneer jy net 95 lopies op die telbord het, kan jy dit nie eintlik bekostig om ’n bal mis te vang nie.

Duanne Olivier het darem net voor uitskeityd van Devon Conway (36) ontslae geraak, maar ’n opdraande stryd staar die Proteas in die gesig.

En ná hul vertoning op die eerste dag weet ’n mens nie so mooi of hulle ooit bo sal uitkom nie.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Zubayr Hamza, Marco Jansen, Kagiso Rabada, Glenton Stuurman en Duanne Olivier.

Nieu-Seeland: Tom Latham (kaptein), Will Young, Devon Conway, Henry Nicholls, Daryl Mitchell, Tom Blundell, Colin de Gradnhomme, Kyle Jamieson, Tim Southee, Neil Wagner en Matt Henry.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 95/10 in 49,2 boulbeurte: Zubayr Hamza 25 en Matt Henry 7/23.

Nieu-Seeland 116/3 in 39 boulbeurte: Henry Nicholls 37 en Duanne Olivier 2/36.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VaalDonkie ·

Jinne ons o/13 span het gewoonlik so 100 lopies geslaan. En ons het net 20 boulbeurte gehad. En ek praat hier van A liga, nie brandy en coke liga nie.

casper ·

Maar meer op nie knie kruip voor die wedstryd lyk dit vir my !!!

George ·

Nie n skok nie, Proteas begin meestal toets reekse in so manier. Dean sal virseker verskonings vind, sy gunstelinge tot dusver “the pitch is not what we expected” “the ball moves more” “the field” “the weather” “bad pitch” “crumbling pitch” en wanneer dit goed gaan “we just played better” lol

George ·

Waars faf en kie om met die bal te peuter dat ons terug in die game kom ;)

Gerrie ·

Wat is die probleem,wat n groot gemors,om so afgerandsel te word,baie teleurgesteld
Hulle het geen idee wat aandie gang is nie

casper ·

So ja – die SA tweede span word toe nou goed verneder ne !!

JohanR ·

Darem bietjie beter gedoen as ‘n matriek leerling! Se iets KSA soos julle gaan van die hele span nou ontsla raak. Dit sal julle dom denke wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.