Boucher: ‘Dit was ’n spesiale vertoning’

Die Proteas het die eendagreeks teen Indië met 3-0 gewen. Foto: Hansie Linde.

Ondanks die swaard wat bo sy kop hang, is Mark Boucher trots op die Proteas se vertoning in die afgelope reekse teen Indië.

Die Suid-Afrikaners het eerstens die toetsreeks met 2-1 gewen, waarna hulle gister skoonskip in die eendagwedstryde gemaak het om 3-0 te wen.

“Ek dink ons is krieketgewys al ’n hele rukkie gelede oor die hond se stert. Om die reeks met 3-0 te beklink is ’n baie spesiale vertoning en hopelik kan ons daarop voortbou,” het die beleërde Protea-hoofafrigter ná gister se wedstryd gesê.

Toe hy uitgevra is of al die gebeure langs die veld sy werk as afrigter ontwrig, het hy gesê dat hy nie in hierdie stadium só ’n vraag kan beantwoord nie.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het verlede week aangedui dat Boucher dissiplinêr verhoor sal word om die bewerings van wangedrag teen hom te ondersoek. Nodeloos om te sê is sy pos as hoofafrigter ook op die spel.

Mark Boucher. Foto: @OfficialCSA/Twitter

Die 45-jarige oudpaaltjiewagter en sy regspan sal Woensdag met KSA vergader om die tydraamwerk van die komende verhoor te bespreek. Die Proteas vertrek binnekort vir ’n kort toetsreeks na Nieu-Seeland en die verrigtinge sal waarskynlik eers ná die toer begin.

Hoewel Boucher nie veel oor die saak kan uitbrei nie, het Temba Bavuma (eendagkrieketkaptein) gesê dat dit ’n invloed op die span het.

“Dit is ’n baie uitdagende tydperk vir die span, spelers en veral vir sommige lede van die bestuur. Ons is beslis onder die vergrootglas; om die gesprekke in die kleedkamer te bestuur en te verseker dat ons 100% op ons vertonings op die veld konsentreer, is ongetwyfeld my grootste uitdaging. Ja, dit is ’n reuse-verantwoordelikheid, maar terselfdertyd ook ’n voorreg. Dit is egter glad nie maklik nie,” het Bavuma gesê.

Boucher het egter geen probleem gehad om die joernaliste se vrae oor die span se vertoning te beantwoord nie en hy het aangevoer dat die kolwers se sukses teen draaiboulwerk hom glad nie verbaas het nie.

Quinton de Kock is onder meer as die speler van die reeks aangewys. Foto: Hansie Linde.

“Toegegee, ons het nie eintlik verwag dat die kolfblaaie só sal speel nie, maar ek dink die hittegolf het ook daartoe bygedra. Ons het in die afgelope paar maande hard aan ons vaardighede op draaiersvriendelike blaaie gewerk en ons pluk nou die vrugte daarvan.”

Quinton de Kock is welverdiend as die speler van die reeks aangewys. Die 29-jarige paaltjiewagter het 229 lopies teen ’n gemiddeld van 76,33 in die reeks geslaan, terwyl hy ook flink agter die paaltjies vertoon het.

“Quinny lewer sy beste vertonings wanneer hy met vryheid speel. Dit is wonderlik om hom terug in die span te hê en te sien glimlag,” het Boucher gesê.

Ondanks die spogvertonings meen Boucher dat die Proteas se voete vierkantig op die grond sal bly.

“Ons het in die laaste wedstryd ’n bietjie met die kolf drooggemaak – ek glo ons moes eintlik 20 meer lopies op die telbord gehad het. Dan was ons veldwerk in al drie wedstryde nie te waffers nie. “Maar dit is lekker om sulke lesse te leer terwyl ons wen, terwyl dit terselfdertyd ook baie spesiaal is om hierdie kragmetings te wen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genis ·

Alles verdrengel en versuip in BEEEE…. Dit maak mens sommer naar.. Dis tyd dat die skare SA Krieket wys wie is in beheer….

Blackies ·

Die verantwoordelike persoon vir al die sogenaamde rasisme wil so graag die Proteas se afrigter word. Hy self het nie baie vir krieket gedoen nie en gaan ook nie iets in die toekoms beteken nie. Hy het soveel geleenthede gehad in sy speel jare en nie gebruik nie, sorry ou maat maar om 20 jaar later ou koeie op te grawe is uiters swak.

Mallie ·

Wys jou die integriteit van sommige mense. Speel altyd die rassis kaart

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.