Boucher kies sy toetsgroep

Rassie van der Dussen. Foto: Facebook.

Mark Boucher en kie het nie op hul laat wag nie en die Protea-groep vir die eerste twee toetse teen die Engelse toerspan is aangekondig.

Faf du Plessis sal ’n toetsspan aanvoer wat ses spelers insluit wat nog nie vantevore vir Suid-Afrika toetskrieket gespeel het nie.

Beuran Hendricks (snelbouler), Pieter Malan (kolwer), Dwaine Pretorius (veelsydige speler), Dane Paterson (snelbouler), Rudi Second (paaltjiewagter) en Rassie van der Dussen (kolwer) is deel van die groep van 17 spelers wat vir die eerste twee toetse gekies is.

Die Proteas speel op 26 Desember in die eerste toets op SuperSportpark in Centurion.

Veral Van der Dussen se insluiting sal Protea-ondersteuners laat regop sit.

Die Suid-Afrikaners se middelorde was besonder broos teen Indië en Van der Dussen se temperament en vasberadenheid is iets wat broodnodig is.

Sedert hy sy eendagbuiging vir die Proteas gemaak het, het die 30-jarige in 18 kitswedstryde 664 lopies teen ’n gemiddeld van 73.77 geslaan.

In die plaaslike vierdagreeks het hy onlangs 154 geslaan in ’n beurt vóór die Mzansi Superliga begin het. Hy handhaaf ’n eersterangse gemiddeld van 44 en het al meer as 7 000 lopies in dié formaat van die spel geslaan.

Lungi Ngidi en Wiaan Mulder is egter weens beserings nie oorweeg nie.

’n Suid-Afrikaanse A-span speel vanaf Vrydag in ’n opwarmingswedstryd teen die Engelse in Benoni.

Die talentvolle Kyle Verreynne is vir dié span gekies.

Daar is diegene wat voel dat die WP-kolwer die Protea-handskoene by Quinton de Kock moet oorneem sodat laasgenoemde toegelaat word om ’n meer beduidende rol met sy kolf te speel.

Protea-toetsgroep: Faf du Plessis (kaptein), Temba Bavuma, Quinton de Kock, Dean Elgar, Beuran Hendricks, Keshav Maharaj, Pieter Malan, Aiden Markram, Zubayr Hamza, Anrich Nortje, Dane Paterson, Andile Phehlukwayo, Vernon Philander, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Rudi Second en Rassie van der Dussen.

SA A-span vir die opwarmingswedstryd: Temba Bavuma, Nandre Burger, Theunis de Bruyn, Reeza Hendricks, Pieter Malan, Andile Phehlukwayo, Dane Piedt, Lutho Sipamla, Glenton Stuurman, Pite van Biljon en Kyle Verreyne.

Engeland se toerspan: Joe Root (kaptein), Zack Crawley, Rory Burns, Dominic Sibley, Ollie Pope, Ben Stokes, John Denly, Jack Leach, Chris Woakes, Jofra Archer, James Anderson, Stuart Broad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

charmaine ·

Goeie werk Mark ek is bly oor Rassie. Jy het presies geweet wat jy soek. Wens die span alles van die beste toe!!

Leeu ·

@Kwaaitjie, ek stem, tyd dat Markram en Theunis gedrop word, en ander spelers hul hande opsteek soos P.Malan.

Andre ·

Boulers lyk bietjie flou, maar alle sterkte aan die span glo Mark kan ons weer op die wenpad kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.