Boulers het wip in hul stap

Duanne Olivier het sy terugkeer met drie paaltjies gevier. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Suid-Afrika se boulers het heel skaflik in die eerste rooibalkrieketwedstryd ná Quinton de Kock se uittrede vertoon.

Marco Jansen, Duanne Olivier, Kagiso Rabada en Lungi Ngidi het Indië in Johannesburg laat bontstaan om hulle binne 64 boulbeurte vir 202 uit te haal.

Die Wanderers-kolfblad is berug vir sy onvoorspelbare wip en al tien van die besoekers se kolwers is uitgevang.

Olivier – wat sy eerste toets sedert 2019 vir die Proteas gespeel het – het sy 50ste toetspaaltjie laat spat toe hy in agtereenvolgende aflewerings met Cheteshwar Pujara (3) en Ajinkya Rahane (0) klaargespeel het.

Hoewel die 29-jarige snelbouler vandag glad nie die spoednaald in die rooi gedruk het nie, het hy steeds die Indiërs op die agtervoet gedwing. Dit het hom slegs 1 486 aflewerings geneem om 50 toetskolwers terug na die kleedkamer te stuur.

Maar die groot ster was ongetwyfeld Jansen wat in skaars sy tweede toets met ’n uitstekende boulontleding van 4/31 van die veld gestap het.

Marco Jansen het ook in sy tweede toets beïndruk. Foto: GB Jordaan.

Hy was die vinnigste onder die tuisspan se boulers en sy lengte (2,03 m) beteken dat hy lekker wip vanaf die baanblad kon bewerkstellig. Die 21-jarige blits laat ’n mens amper aan ’n linkshandige Morné Morkel dink.

Dean Elgar het waarskynlik breed geglimlag toe sy boulaanval tien paaltjies op die eerste dag geneem het – veral nadat hy die loot verloor het.

Maar kolfwerk is deesdae die Proteas se achilleshiel en Aiden Markram is sommer vroeg in die tuisspan se beurt deur Mohammed Shami been voor paaltjie betrap.

’n Suksesvolle span kan immers nie net op sy boulers staatmaak om ’n toets te wen nie.

Proteas: Dean Elgar, Aiden Markram, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Kyle Verreynne, Marco Jansen, Kagiso Rabada, Keshav Maharaj, Duanne Olivier en Lungi Ngidi.

Indië: KL Rahul, Mayank Agrawal, Cheteshwar Pujara, Ajinkya Rahane, Hanuma Vihari, Rishabh Pant, Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Mohammed Shami, Jasprit Bumrah en Mohammed Siraj.

Opsomming van eerste dag se telkaart:

  • Indië 202 in 63,1 boulbeurte: KL Rahul 50, Marco Jansen 4/31, Kagiso Rabada 3/64 en Duanne Olivier 3/64.
  • Proteas 28/1 ná 9,4 boulbeurte: Keegan Petersen 12*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.