Boulers sal wedstryde vir Proteas wen

Argieffoto van Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi. Foto: Ishara Kodikara/AFP.

In die afwesigheid van ’n kolwer wat oor die nodige X-faktor beskik (lees Faf du Plessis en AB de Villiers), sal die Proteas kwaai op hul boulaanval steun om vir hulle wedstryde in die komende T20-Wêreldbeker te wen.

Die Suid-Afrikaners het vandag hul eerste opwarmingswedstryd teen Afghanistan met 41 lopies gewen – grootliks te danke aan die vertoning van hul draaibalboulers.

Die Proteas het Afghanistan tot 104/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk nadat hulle vroeër 145/5 aangeteken het.

Tabraiz Shamsi (3/18) was die beste van die lot, terwyl Bjorn Fortuin (1/12) en Keshav Maharaj (1/14) ook baie ekonomies geboul het.

Die draaiers het net 3,6 lopies per boulbeurt afgestaan terwyl hulle vyf paaltjies laat kantel het. Daarteenoor het die vinniger manne – Lungi Ngidi en Dwaine Pretorius – gesamentlik 7,1 lopies per boulbeurt afgestaan.

Anrich Nortjé en Kagiso Rabada het vandag ’n blaaskans geniet ná hul IPL-veldtog saam met die Delhi Capitals. Dit sal interessant wees om te sien hoe die Protea-bestuur dié twee blitse saam met die draaiers in die Verenigde Arabiese Emirate inspan.

Wat kolfwerk betref, het Temba Bavuma aanvanklik swaar teen die draaiers geleef, terwyl Heinrich Klaasen en Rassie van der Dussen ook gesukkel het om aan die gang te kom.

’n Kolwer soos Du Plessis sou ongetwyfeld van groot waarde in die Verenigde Arabiese Emirate gewees het.

Die 37-jarige voormalige Protea-kaptein het juis 86 lopies in die eindstryd van die IPL vir die Chennai Super Kings geslaan en hy was die naasbeste lopiemaker in daardie toernooi.

’n Telling van net meer as 140 is dalk genoeg teen Afghanistan, maar nie teen Australië of Indië nie.

Die Proteas speel Woensdag in hul laaste opwarmingswedstryd teen Pakistan, waarna hulle Saterdag in hul eerste amptelike wedstryd teen Australië kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ian ·

Ek dog die hele toernooi word in Oman gespeel? Gaan hulle op ‘n stadium ook VAE toe??

Boerknaap ·

Net 4 van die lande wat moes kwalifiseer speel uit in Oman. Top 2 gaan dan deur na UAE toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.