Boult en Burger briljant teen Mumbai

Trent Boult het drie paaltjies teen die Mumbai Indians geneem. (Foto: X/IPL)

Trent Boult het ʼn snelboulmeesterles in die kleure van die Rajasthan Royals teen die Mumbai Indians aangebied en Rohit Sharma is saam met Naman Dhir en Dewald Brevis vir nulletjies uitgeknikker.

Suid-Afrika se Nandre Burger het ook die belangrike paaltjies van Tim David en Ishan Kishan geneem en die Indians is tot 125/9 in die toegelate 20 boulbeurte beperk.

Kaptein Hardik Pandya het weliswaar sy bes gedoen om ʼn terugvegpoging van stapel te stuur en hy het ʼn paar grenshoue geslaan, maar hy is vir 34 lopies uitgehaal.

Die Royals het daarna die wenlopies binne 16 boulbeurte geslaan.

Kwena Maphaka kon darem die eerste paaltjie van sy Indiese Premierliga-loopbaan neem toe hy vir Yashasvi Jaiswal uitgeknikker het.

Die 17-jarige Suid-Afrikaner het vroeër 66 lopies in sy vier boulbeurte teen die Sunrisers Hyderabad afgestaan.

Gerald Coetzee het egter nou swaar teen die Royals geleef en Riyan Parag en kie het sewe grenshoue van sy boulwerk geslaan.

  • Opsomming van die telkaart:

Mumbai Indians 125/9 in 20 boulbeurte: Hardik Pandya 34, Yuzvendra Chahal 3/11 en Trent Boult 3/22.

Rajasthan Royals 127/4 in 15,3 boulbeurte: Riyan Parag 54* en Akash Madhwal 3/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.