Brevis op sy stukke in Sri Lanka

Dewald Brevis (links) het ’n onoorwonne vennootskap van 113 lopies saam met Beyers Swanepoel geniet. (Foto: Twitter/KSA)

Nadat Dewald Brevis nie ʼn enkele wedstryd vir Mark Boucher se Mumbai Indians in die afgelope Indiese Premierliga gespeel het nie, het die jong kolwer net weer vir almal aan sy onbetwisbare talent herinner.

Die jong kolwer se onoorwonne 98 lopies van slegs 71 aflewerings het toegesien dat Suid-Afrika se A-span vir Sri Lanka A met vier paaltjies in die eerste eendagwedstryd tussen die twee spanne kon klop.

Brevis het sewe sesse geslaan en die Suid-Afrikaners het die wenlopies in die 42ste beurt geslaan nadat hulle vroeër met die telling op 155/6 gewankel het.

ʼn Mens weet eintlik nie meer wat die 20-jarige speler moet doen om die aandag van die nasionale keurders op ʼn permanente grondslag te trek nie.

Hy het boulers tydens die o.19-Wêreldbeker verrinneweer, ʼn warrelwindbeurt van 162 lopies van slegs 57 aflewerings in ʼn plaaslike T20-wedstryd gemoker én ʼn vyftigtal teen die Wes-Indiese Eilande in ʼn rooibaloefenwedstryd aangeteken.

Shukri Conrad, die Proteas se nuwe toetsafrigter, was juis aan die stuur van sake toe Brevis vir beurte van  65, 104, 96, 97 en 138 in die o.19-skouspel gesorg het.

“Dewald Brevis is die naam op almal se lippe. Hy is AB de Villiers 2.0,” het Conrad destyds gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Sri Lanka A 264/8 in 50 boulbeurte: Janith Liyanaga 76, Nishan Madushka 68 en Lutho Sipamla 3/33.

Suid-Afrika A 268/6 in 41,1 boulbeurte: Dewald Brevis 98*, Beyers Swanepoel 43* en Dilshan Madushanka 2/44.

Uitslag: Suid-Afrika A wen met vier paaltjies.

  • SA A-toer na Sri Lanka:

6 Junie: Tweede eendagwedstryd

8 Junie: Derde eendagwedstryd

12-15 Junie: Eerste vierdagwedstryd

19-22 Junie: Tweede vierdagwedstryd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

George ·

Hy speel net goed nou en dan, gaan kyk op die grootter verhoog – nie een liga met n avg van oor 28 nie.

George ·

Boucher het altyd dit ook blameer, maar in IPL hom nie n enkele kans gegee nie, al was die span vol beserings. So dis beslis nie sy “vel” nie.

Frank ·

Praat onder korreksie, maar ek dink Herchel Gibbs se gemiddeld was na 9 wedstryde iets soos 10, maar die keurders het sy potensiaal raakgesien. Kyk watter fenominale speler het hy geword! Brevis sal moet kolfkans kry, al hoe hy gaan ontwikkel. Hy het beslis die potensiaal. Briljante veldwerker ook.

George ·

Gibbs het op plaaslike vlak uitgestaan en gestyg. Brevis doen nie. Avg 28 hier, 23 in IPL en 20 in CPL.

Boer ·

Dit sal nie lank wees nie dan gaan Brevis Australië of Nieu Zeeland toe dan speel hy dalk vir daai lande en ek sê kyk dan hoe slaan hy ou nuttelose Bavuma se span uitmekaar.

George ·

Waar hy ook nie gaan span maak nie. Bavuma is in ons top 5 kolwers vir toets en ODI’s. Net T20 wat hy nie is nie. Jip, selfs beter as Markram, Elgar, Rilee, Rassie.

George ·

Omdat die Proteas so goed gedoen het in WC met AB/Smith/Dup/Rilee/Markram/De Kock/Pollock/Klusener/Donald/Abbot ?

JohanR ·

Hoeveel het Suid Afrika nie al aan Australia, Nieu Zeeland en Engeland verloor nie? Manne wat al, en nog, baie sukses vir daai spanne gebring het.

piet ·

Die rede hoekom hy nie gereeld gekies word nie is omdat hy te wisselvallig is. Nou gaan hy weer vir die volgende 3 beurte nie lopies kry nie. Kyk maar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.