Broad boul duurste boulbeurt nóg

Engeland se Stuart Broad. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Stuart Broad se toetskrieket-getuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof. Die Engelsman het 549 paaltjies teen ’n gemiddeld van 27.96 in 155 toetse geneem en wanneer hy op alle suiers vuur kan hy binne ’n japtrap ’n spul paaltjies neem.

Maar die 36-jarige snelbouler is waarskynlik nie té trots op sy jongste rekord nie.

Hy het vandag 35 lopies in een boulbeurt in die vyfde toets tussen Engeland en Indië op Edgbaston afgestaan – dit is die duurste boulbeurt nóg in die geskiedenis van toetskrieket.

Aan die begin van die 84ste boulbeurt het Indië 377/9 op die telbord gehad met Jasprit Bumrah en Mohammed Siraj voor die paaltjies.

Bumrah het Broad se eerste aflewering vir ’n grenshou gehaak, terwyl die daaropvolgende aflewering oor die paaltjiewagter se kop vir vyf wydlopers geseil het.

Die volgende paar aflewerings moes seker soos ’n rillerverhaal vir Broad gevoel het: 6 (boonop nog ’n foutbal ook), 4, 4, 4, 6 en 1.

Dit verbeter die vorige duurste boulbeurt- rekord met sewe lopies.

Drie kolwers (Keshav Maharaj teen Joe Root, Brian Lara teen Robin Peterson en George Bailey teen James Anderson) het al 28 lopies van een boulbeurt geslaan.

“Dit is ’n jammerte om die rekord af te staan. Tog word rekords opgestel sodat hulle weer verbeter kan word,” het Peterson op sosiale media geskerts.

Broad het in 2007 ook die duurste T20-boulbeurt afgestuur toe nóg ’n Indiër, Yuvraj Singh, ses agtereenvolgende sesse vanaf sy boulwerk gemoker het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.