Bumrah laat kolwers steier

Jasprit Bumrah het vyf Proteas terug na die kleedkamer gestuur. Foto: Marco Longari/AFP.

Allan Donald het vooraf gesê dat die Proteas se kolfwerk hulle sal maak of breek in die toetsreeks teen Indië.

Ná Dean Elgar se heldedade in die tweede toets op die Wanderers het die Suid-Afrikaners gister weer met die wilgerlat op Nuweland gesukkel.

Veral Jasprit Bumrah het met sy woer-woer-aksie die tuisspan se kolwers hoofbrekens gegee en die Proteas is vir 210 uitgehaal; nog 13 lopies weg van Indië se eerstebeurttelling van 223.

Aiden Markram is in die eerste boulbeurt van die dag deur Bumrah skoongeboul. Dit was nóg ’n teleurstellende vertoning deur die openingskolwer en hy teken nou sy lopies teen ’n eina-gemiddeld van 12 in die reeks aan.

Rassie van der Dussen (21), Temba Bavuma (28) en Kyle Verreynne (0) is ook goedkoop uitgeknikker, maar Keegan Petersen (72) het baie goed voor die paaltjies gelyk.

Keegan Petersen het met sy veggees beïndruk. Foto: Hansie Linde.

Die 28-jarige Kapenaar – wat Hashim Amla se skoene as no. 3-kolwer moet volstaan – het nege grenshoue in sy beurt geslaan; veral sy houe op die agtervoet deur die dekveld het vriend en vyand beïndruk.

AB de Villiers het ook sy lof besing.

“Om ’n lang storie kort te maak: Keegan Petersen kán speel. Ek is beïndruk met sy kalm houding, vaardigheid en tegniek teen een van die beste boulaanvalle ter wêreld,” het die oudkaptein getwiet.

Die 28-jarige kolwer het tans die derde meeste lopies (194 teen 38,80) in die reeks aangeteken en hy het reeds twee vyftigtalle agter sy naam.

Gelukkig beskik die Proteas oor ’n sterk boulaanval wat die kastaiings uit die vuur kan krap.

Kagiso Rabada – wat weliswaar deur ’n foutbalprobleem geteister word – het van Mayank Agarwal ontslae geraak, terwyl Marco Jansen vir KL Rahul terug na die kleedkamer gestuur het.

Virat Kohli en Cheteshwar Pujara (Indië se mees ervare kolwers) is egter nou voor die paaltjies terwyl die besoekers se voorsprong op 70 staan.

Maar een vurige boulskof deur óf Rabada óf Jansen óf Ngidi, kan die skaal weer in die Proteas se guns swaai.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 223 ná 77,3 boulbeurte: Virat Kohli 79, Cheteshwar Pujara 43 en Kagiso Rabada 4/73

Suid-Afrika 210 ná 76,3 boulbeurte: Keegan Petersen 72, Temba Bavuma 28 en Jasprit Bumrah 5/42

Indië 57/2 ná 17 boulbeurte: Virat Kohli 14* en Marco Jansen 1/7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Baardman ·

Skande vir Markram dat die naguiltjie meer lopies kry as hy. En ek weet ook nie wat van der Dussen daar maak nie.

casper ·

Langer op die kniegies bly sal help en dan ook na elke bal die vuis lig !!!
VIVA BLM !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.