Buttler gee nie sommer sy paaltjie op skinkbord weg

Jos Buttler het 101 lopies van slegs 67 aflewerings teen Sri Lanka gemoker. Foto: Twitter.

Die Proteas speel eers Saterdag teen Engeland in die T20-Wêreldbeker, maar die gevaarligte behoort seker reeds te flikker: Die Engelse is ongetwyfeld een van die gunstelingspanne om met die uiteindelike louere weg te stap.

Hulle het juis gisteraand vir Sri Lanka met 26 lopies geklop en dit is veral Jos Buttler se flitsende kolf wat die Proteas slapelose nagte kan gee.

Die 31-jarige paaltjiewagter het 101 onoorwonne lopies van slegs 67 aflewerings geslaan om te sorg dat Engeland 163/4 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het nadat hulle op 35/3 gewankel het.

Buttler beskik oor die unieke vermoë om te eniger tyd vinniger te kolf: Hy het 45 balle benodig om sy eerste vyftigtal te slaan, maar daarna het hy die krane oopgedraai en net 22 aflewerings later het hy sy honderdtal gevier.

Sodoende was hy vir amper 62% van Engeland se lopies in dié beurt verantwoordelik en hy het die eerste Engelse speler geword om ’n honderdtal in al drie van die spel se formate te slaan.

Intussen speel die Proteas vandag teen Bangladesj in Abu Dhabi.

Ná drie nederlae is dit amper onmoontlik vir Bangladesj om vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer, terwyl die Proteas graag op hul momentum wil voortbou.

Temba Bavuma se span het Saterdag 18 lopies vanaf die laaste boulbeurt geslaan om Sri Lanka met vier paaltjies te klop.

Die wedstryd begin om 12:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.