Bye meer opwindend as Sri Lanka se kolfwerk

Die Proteas se eendaggroep wat die reeks teen Sri Lanka gewen het. Foto GB Jordaan

Die Proteas se eendaggroep wat die reeks teen Sri Lanka gewen het. Foto GB Jordaan

Bye, ja bye, het tydens die kolfbeurt van Sri Lanka vir die grootste opwinding op die Wanderers gesorg in die derde eendagwedstryd teen die Proteas.

Na ʼn goeie aanvangsvennootskap het Sri Lanka se kolwers weer inmekaargestort en Suid-Afrika het die wedstryd met sewe paaltjies in die 33ste boulbeurt beklink en daarmee ook die reeks gewen.

Sri Lanka het 163 lopies aangeteken en die proteas het dit met sewe paaltjies staande verbygesteek.

AB de Villiers het die loot gewen en Sri Lanka ingestuur om eerste te kolf, tot die argwaan van heelwat toeskouers wat graag die Proteas vir ʼn volle 50 boulbeurte wou sien kolf.

Die besoekers het hulle kolfbeurt goed begin. Die aanvangspaar, Niroshan Dickwella en Upul Tharanga het ʼn vennootskap van 60 lopies daargestel voordat Tharanga (31) deur Dwaine Pretorius op skerpby van Kagiso Rabada se boulwerk uitgevang is. Dickwella is net die vorige bal deur JP Duminy laat val.

Dickwella het dié tweede lewe goed benut deur 74 lopies in 80 balle te slaan.

Sri Lanka was op 115/4 in die 25ste boulbeurt toe Chris Morris en toe die glippe in hulle pienk klere platgeval en deur al die ander spelers en skeidsregters gevolg is. ʼn Groot swerm bye het die speelveld oorgeneem en die spel is onderbreek.

Die spelers het gaan koeldrank drink en rondgestaan tot die skeidsregters hulle afgestuur het. Twee silinders vuurblussers is op die bye uitgespuit.

Na 20 minute was die spelers terug op die veld maar hulle moes weer afgaan omdat Quinton de Kock en die bye dieselfde stukkie veld wou gebruik.  ʼn Byeboer wat in die omgewing bly het kom help en die bye van die speelveld weggelok.

Die bye het die wedstryd uiteindelik met sowat ʼn uur vertraag.

Daar was drie verbroude vangkanse (deur Duminy, Du Plessis en Kagiso Rabada) maar die veldwerk was in die geheel uitstekend. Hashim Amla en Du Plessis het moeilike vangkanse benut en Rabada het nie net goed geboul nie, maar ook uithaler-veldwerk op die grens gedoen.

Dwaine Pretorius se 3/19 van sewe boulbeurte was die beste boulontleding van die Proteas se boulers. Andile Phehlukwayo (2/26), Kagiso Rabada (2/39) en Imran Tahir (2/21) het ook goed geboul en elk twee paaltjies geneem, terwyl Chris Morris beter as 1/38 verdien het.

Sri Lanka se beurt het in die 40ste boulbeurt geëindig met hulle telling op 163. Net vier van die tien kolwers wat uit is, het meer as vyf lopies aangeteken.

Met die klein teiken was daar min druk op die Proteas se kolwers. Quinton de Kock (8) het die bal op sy paaltjies gespeel; Hashim Amla is met sy telling op 34 uitgehardloop; en Du Plessis het in sy 100ste eendagwedstryd vir die Proteas 24 lopies aangeteken toe hy deur Dhananjaya Da Silva van Lahiru  Madushanka se boulwerk gevang is met die totaal op 92/3.

AB de Villiers (60 in 61 balle) en JP Duminy (28 in 40 balle) het toe voortgegaan en die oorblywende 72 lopies aan te teken sonder dat nog ʼn paaltjie geval het.

Dit was Suid-Afrika se twaalfde opeenvolgende eendag-oorwinning op eie bodem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.