Capitals het een hand op silwerware

Rilee Rossouw is as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Twitter.

Die Pretoria Capitals het een hand op die SA20-silwerware nadat hulle gisteraand die Paarl Royals met 29 lopies in die eerste halfeindstryd op die Wanderers geklop het.

Rilee Rossouw was die Pretorianers se groot ster – die Protea-kolwer het 56 lopies aangeteken en die belangrike paaltjie van Eoin Morgan geneem om welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys te word.

Op ʼn baanblad waar kolwers nooit heeltemal op hul gemak was nie, het Rossouw se ervaring gewys toe hy eers die kat goed uit die boom gekyk het voordat hy later die langsteel ingelê het.

Hy is egter die trotsste op Morgan se paaltjie.

“Ek kry gewoonlik ʼn boulkans in belangrike wedstryde en ek het nou ʼn paaltjie in die halfeindstryd geneem! Maar op hierdie baanblaaie is ʼn telling van 153 eintlik tussen 160 en 170 lopies werd en ons boulers het hulself goed van hul taak gekwyt om die wedstryd vir ons te wen,” het Rossouw gesê.

In antwoord op die Capitals se beurt het die Royals se Jason Roy en Jos Buttler weliswaar vroeg hul paaltjies verloor, maar Paul Stirling en Dane Vilas het daarna die kastaiings uit die vuur gekrap.

Adil Rashid het egter vir hoofbrekens gesorg en hy het van al twee kolwers binne die bestek van ʼn paar aflewerings ontslae geraak.

David Miller het daarna sy bes gedoen om die wedstryd vir die Kapenaars te wen, maar dit was neusie verby vir die Royals toe ʼn uitstekende Colin Ingram hom van Anrich Nortjé se boulwerk uitgevang het.

Die ander halfeindstryd word vandag tussen die Joburg Super Kings en die Sunrisers Eastern Cape op SuperSportpark beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Pretoria Capitals 153/8 in 20 boulbeurte: Rilee Rossouw 56, Eathan Bosch 22 en Andile Phehlukwayo 3/29.

Paarl Royals 124/10 in 19 boulbeurte: David Miller 31, Paul Stirling 21 en Adil Rashid 2/15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Rillee, ook maar n one hit wonder. 1 goeie innings en 9 swakkes.

Koos 100 ·

Bosch het my baie beindruk. Jonk en boul uitstekend onder druk.
Daar is baie jong spelers in die toernooi wat wêreld klas is, en baie jammer dat hulle deur ander lande op geraap gaan word weens die politieke landskap in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.