Capitals wen riller op SuperSportpark

Die Pretoria Capitals en die MI Cape Town het vir n aksiebelaaide wedstryd op SuperSportpark gesorg.

ʼn Volgepakte SuperSportpark in Centurion is gister op ʼn aksiebelaaide krieketwedstryd getrakteer toe die Pretoria Capitals die wenlopies van die laaste bal teen MI Cape Town geslaan het.

Die kragmeting het oor al die bestanddele van ʼn sportlokettreffer beskik: Daar was puik individuele prestasies, ʼn goeie terugvegpoging en natuurlik hope drama.

Die Kapenaars het eerste gekolf en ondanks Rassie van der Dussen se vyftigtal, is hulle vir 159 lopies in minder as 20 boulbeurte uitgehaal.

Nie een van die ander kolwers kon meer as 16 lopies aanteken nie. Dewald Brevis het twee mooi sesse geslaan voordat Phil Salt hom agter die paaltjies van Anrich Nortjé se boulwerk uitgevang het.

Nortjé het ook die gevaarlike Tim David skoongeboul, terwyl James Neesham oudergewoonte met sy akkurate boulwerk beïndruk het.

Daarna het die Capitals hul lopiejaagtog soos vetgesmeerde blitse begin, met Salt en Kusal Mendis wat binne ʼn japtrap 50 lopies om die eerste paaltjie aangeteken het.

Sam Curran het egter gewys dat hy sy sout werd is toe hy in dieselfde boulbeurt van Salt en Mendis ontslae geraak het, terwyl Theunis de Bruyn nie ʼn antwoord vir Rashid Khan se goëlballe gereed gehad het nie.

Rilee Rossouw het daarna die kastaiings uit die vuur gekrap met vier sesse, maar die wedstryd het op ’n opwindende einde afgestuur toe Curran vir Senuran Muthusamy in die laaste boulbeurt van die dag uitgehaal het.

MI Cape Town het bloed geruik en al die veldwerkers het om Josh Little – wat op no. 11 gaan kolf het – saamgedrom.

Nadat die jong Ierse speler sy eerste aflewering heeltemal mis geslaan het, het hy Curran se heel laaste bal oor die veldwerkers se koppe geslaan en vir twee lopies deurgeskarrel.

Dit was inderdaad vir jou ’n vuurwerkvertoning op SuperSportpark.

  • Opsomming van telkaart:

MI Cape Town 159/10 in 19,4 boulbeurte: Rassie van der Dussen 51, James Neesham 2/26 en Anrich Nortjé 2/37.

Pretoria Capitals 160/9 in 20 boulbeurte: Rilee Rossouw 40, Kusal Mendis 39 en Sam Curran 3/26.

  • Punteleer:
  1. Pretoria Capitals: 27 punte ná agt wedstryde
  2. Sunrisers Eastern Cape: 19 punte ná nege wedstryde
  3. Paarl Royals: 19 punte ná nege wedstryde
  4. Joburg Super Kings: 18 punte ná agt wedstryde
  5. Durban’s Super Giants: 14 punte ná nege wedstryde
  6. MI Cape Town: 13 punte ná nege wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.