Carey dra Aussies oor wenstreep

Alex Carey en Pat Cummins vier die Aussies se reeksoorwinning teen Nieu-Seeland. (Foto: Sanka Vidanagama/AFP)

Twee uitstekende vennootskappe – éérs tussen Alex Carey en Mitchell Marsh en toe tussen Carey en Pat Cummins – het die wa deur die drif vir Australië in die tweede toets teen Nieu-Seeland getrek.

Die Aussies het die kragmeting met drie paaltjies in Christchurch gewen om die reeks met 2-0 te beklink.

Australië het 279 lopies vir ʼn oorwinning benodig, maar die span was vroeg met sy rug teen die muur met die telling op 80/5.

Gerekende kolwers soos Steve Smith, Marnus Labuschagne, Usman Khawaja en Travis Head was reeds terug in die kleedkamer en ʼn opdraande stryd het ongetwyfeld op die besoekers gewag.

Carey en Marsh het egter vuur met vuur beveg en hulle het 140 blitsige lopies om die sesde paaltjie aangeteken voordat Ben Sears uiteindelik ʼn deurbraak kon maak.

Mitchell Starc is sommer met die daaropvolgende aflewering uitgeknikker, maar Carey en Cummins het daarna toegesien dat die lopiekrane weer opgedraai word.

Cummins het die wenlopies met ʼn grenshou van Sears se boulwerk gemoker en die Aussie-kaptein het omtrent vir jou fees gevier, terwyl Carey ʼn groot klop op die skouer met sy onoorwonne beurt van 98 lopies van slegs 123 aflewerings verdien.

“Ons het vandag mekaar so gereeld as moontlik daaraan herinner om die telbord aan die gang te hou. Soos wat die wenteiken nader kruip styg die temperatuur in die drukkoker vir die veldwerkspan; positiewe kolfwerk is juis een van ons span se sterk punte,” het Cummins na afloop van die wedstryd gesê.

Hy het ook Carey vir sy puik beurt geloof.

“Ek het nie eens geweet hy het 98 lopies agter sy naam gehad nie! Dit is maar die storie van die reeks – in die belangrike oomblikke van ʼn wedstryd het een speler sy man gestaan om die kragmeting vir sy span te wen. Ons vind deesdae maniere om krieketwedstryde te wen; en dit is baie spesiaal.”

  • Opsomming van die telkaart:

Nieu-Seeland 162/10 in 45,2 boulbeurte: Tom Latham 38, Josh Hazlewood 5/31 en Mitchell Starc 3/59.

Australië 256/10 in 68 boulbeurte: Marnus Labuschagne 90, Mitchell Starc 28 en Matt Henry 7/67.

Nieu-Seeland 372/10 in 108,2 boulbeurte: Rachin Ravindra 82, Tom Latham 73 en Pat Cummins 4/62.

Australië 281/7 in 65 boulbeurte: Alex Carey 98*, Mitchell Marsh 80 en Ben Sears 4/90.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.