Gister se IPL-eindstryd was ’n klinkklare bewys dat ’n Suid-Afrikaanse krieketspeler nie altyd onder die druk van belangrike wedstryde vou nie.
’n Immergroen Faf du Plessis se kolf het die praatwerk gedoen en hy het saam met Moeen Ali, Josh Hazlewood en Shardul Thakur toegesien dat die Chennai Super Kings vir die Kolkata Knight Riders met 27 lopies geklop het.
Van “choke” was daar geen sprake of teken nie.
Die voormalige Protea-kaptein het sewe viere en drie sesse in sy spogbeurt van 86 lopies van 59 aflewerings geslaan.
Hy het die naasmeeste lopies (635) in die toernooi aangeteken, terwyl hy ook 23 keer die bal oor die grenstou laat seil het.
Sedert die aksie weer in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is, het hy 313 lopies teen ’n gemiddeld van 35 geslaan. Nie sleg vir ’n 37-jarige speler wat onlangs weer sy plek ná harsingskudding kon volstaan nie.
Tog is daar ook sprake dat dit dalk sy laaste wedstryd vir die Super Kings was. Daar is vyf spelers ouer as 35 jaar in hul span en tyd staan vir niemand stil nie.
Maar gister het hy vir die Chennai-ondersteuners én vir die Protea-keurders gewys wat in hom steek: ’n Ervare speler wat koelkop lopies in ’n belangrike wedstryd kan slaan.
Die wyse Salomo sê deur jou vyand se dors te les, sal jy hom vuurrooi van skaamte maak. Toegegee, die nasionale keurders is g’n vyand nie, maar nadat hulle nie plek vir Du Plessis in hul T20-Wêreldbekergroep kon vind nie, moet sy onlangse vertonings hulle effens ongemaklik laat rondskuif.
“Dit was ’n spesiale dag en ek is baie dankbaar; dit was ook my 100ste wedstryd in die Indiese Premierliga,” het Du Plessis ná afloop van die wedstryd gesê.
Nodeloos om te sê het hy ’n spul toekennings vir sy vertoning gekry. Dalk sou hy nie ’n slegte toevoeging tot die Proteas se Wêreldbekerspan gewees het nie; hy is immers reeds in die VAE.
- Opsomming van telkaart:
Chennai Super Kings 192/3 in 20 boulbeurte: Faf du Plessis (86), Moeen Ali (37) en Sunil Narine (2/26).
Kolkata Knight Riders 165/9 in 20 boulbeurte: Shubmam Gill (51), Venkatesh Iyer (50) en Shardul Thakur (3/38).
Absolutely ridiculous how @faf1307 will not be playing for @OfficialCSA in the T20 World Cup !!!
— Michael Vaughan (@MichaelVaughan) October 15, 2021
Fafever Young Du Class ???????? M.O.M!#CSKvKKR #WhistlePodu #Yellove???? @faf1307 pic.twitter.com/v4wcVBwgM2
— Chennai Super Kings – Mask P????du Whistle P????du! (@ChennaiIPL) October 16, 2021