Chris Morris se Protea-dae verby

Chris Morris. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Hoewel hy nie ’n amptelike aankondiging gemaak het nie, meen Chris Morris dat sy internasionale loopbaan verby is.

Die 34-jarige veelsydige speler se laaste wedstryd vir die Proteas was in 2019 tydens die Wêreldbeker-eendagkriekettoernooi in Engeland; hy is oor die hoof gesien vir die huidige T20-Wêreldbeker.

“My Suid-Afrikaanse speeldae is iets van die verlede. Ek is nie iemand wat daarvan hou om amptelike aankondigings te maak nie, maar hulle (Krieket Suid-Afrika) is bewus daarvan,” het Morris in ’n onderhoud met Sportskeeda gesê.

Hy het die Proteas in vier toetse, 42 eendagwedstryde en 23 T20-wedstryde op die internasionale verhoog verteenwoordig.

“Ek sal voortaan op eersterangse krieket konsentreer en my beste vir daardie spanne gee. Ek was baie bevoorreg om die geleentheid te kry om Suid-Afrika in al drie formate van die spel te verteenwoordig.”

Volgens Morris was hy lanklaas in verbinding met enigiemand van Krieket Suid-Afrika en hy het intussen aanbeweeg.

Hy sal voortaan op eersterangse krieket fokus. Foto: Twitter .

“As jy my ’n paar maande terug oor iets soortgelyks uitgevra het, sou ek waarskynlik ’n langer antwoord gegee het, maar ek is tans tevrede met my lewe en krieketloopbaan.”

Die Rajasthan Royals het vroeër amper R32 miljoen uitgehaal om sy dienste vir vanjaar se Indiese Premierliga te bekom. Sodoende het die Suid-Afrikaner die duurste speler in IPL-geskiedenis geword.

Dinge het aanvanklik goed in Indië gelyk, maar sedert die toernooi weer in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is, het hy gesukkel om sy spelpeil van ouds te herwin.

Hy is egter steeds ’n gevaarlike T20-speler, soos wat sy 290 paaltjies en 1 868 lopies teen ’n treftempo van meer as 150 getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Moenie bekommer nie baie wit spelers se dae in die Proteas is getel. En om te dink daar was eens op ‘n tyd ‘n trots om vir die Proteas te speel.

Pietertjie ·

Gaan speel vir jou eie sak oorsee. Proteas lewer in elk geval niks om na uit sien nie. Ek kyk eerder wanneer oorsese spanne speel, wat spelers slegs op meriete kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.