Coetzee, Hendricks skitter in Protea-sege

Gerald Coetzee het drie paaltjies in Indië se kolfbeurt geneem. (Foto: X/ICC)

Dit het vandag ook op St.Georgepark in die Oos-Kaap gereën, maar dit het nie die Proteas gekeer om die tweede T20-wedstryd teen Indië met vyf paaltjies te wen nie.

Die Suid-Afrikaners het eerste geboul en Marco Jansen het vroeg saam met Lizaad Williams van Indië se openingskolwers ontslae geraak.

Tilak Varma het egter daarna die weg vir Suryakumar Yadav en Rinku Singh gebaan om die langsteel in te lê.

Yadav en Singh het 70 lopies van slegs 48 balle om die vierde paaltjie aangeteken voordat Tabraiz Shamsi en Gerald Coetzee die lopiekrane toegedraai het.

Shamsi het net 18 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan, terwyl hy ook die waardevolle paaltjie van Yadav geneem het.

Dan het die blitsige Coetzee twee paaljties op ʼn streep in die laaste boulbeurt van Indië se kolfpoging geneem voordat dit begin reën het.

Die besoekers se telling het toe op 180/7 gestaan en die slim manne met die sakrekenaars het uitgewerk dat Suid-Afrika 152 lopies in 15 boulbeurte vir ʼn oorwinning moes aanteken.

Danksy die flitsende kolwe van Reeza Hendricks en Aiden Markram het dit gelyk of die Proteas die telling op ʼn drafstap sou bereik, maar hulle het so byna oor ʼn paar van die laaste hekkies net vóór die wenstreep gestruikel.

Indië het ʼn paar vinnige paaltjies laat kantel en waar Suid-Afrika met sy telling op 96/1 in volle beheer van dinge was, het die gevaarligte geflikker toe vier vinnige paaltjies geval het.

Tristan Stubbs het egter een of twee goeie houe gespeel, terwyl Andile Phehlukwayo die wedstryd met ʼn groot ses van Ravindra Jadeja se boulwerk beklink het.

Die laaste T20-wedstryd van die reeks word Donderdag in Johannesburg beslis.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 180/7 ná 19,3 boulbeurte: Rinku Singh 68*, Suryakumar Yadav 56 en Gerald Coetzee 3/32.

Suid-Afrika 154/5 ná 13,5 boulbeurte: Reeza Hendricks 49, Aiden Markram 30 en Mukesh Kumar 2/34.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Jansen se boulwerk bly uiters swak, rond en bont. Hy moet gaan werk aan sy boulwerk en en ander boulers moet intussen kans kry.

Kiepie ·

Ai, wat Reeza nie vir ons in die wêreldbeker kon beteken het as hy speelkans gegun is nie.

George ·

@Kiepie, Reeza wat 29 in ODI avg? Hy sou niks meer gedoen het wat ons sou laat wen het nie.

George ·

@piet, stem 100% saam. Ons boulers is nie konstant nie. Die nuwe linge is uiters duur ook in ODIs.

Aries ·

Kiepie- ek stem honderd persent saam met jou kommentaar- hoe gouer die Proteas ontslae raak van Bavuma hoe beter vir die Protea span-Bavuma ry net op die rug van sy topkolwers en so bly hy nog in die span en dit nog kaptein ook- Reeza is by verreweg n beter kolwer as wat Bavuma ooit kan wees en Markram is by verreweg n beter kaptein as Bavuma

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.