Conway reeds onder voorste T20-kolwers

Devon Conway. Foto: Marty Melville/AFP.

Devon Conway het in sy laaste vyf kolfbeurte op die internasionale witbalkrieket-verhoog tellings van 15, 92*, 126, 72 en 27 geslaan. En ná slegs 13 T20-wedstryde tel hy reeds onder die voorste vyf kolwers in hierdie weergawe van die spel.

Die Suid-Afrikaans gebore Nieu-Seelandse ster is tans vierde op die lys; beter as Indië se Virat Kholi en Suid-Afrika se Rassie van der Dussen.

Conway se ranglys-heldedade het ongetwyfeld ’n hupstoot gekry ná sy onoorwonne beurt van 92 van 52 aflewerings in die eerste T20-kragmeting teen Bangladesj.

Hy het vroeër vanjaar ook 99 teen Australië gemoker en hy spog met ’n gesonde T20-gemiddeld van 59,12 en ’n treftempo van meer as 150.

Die 29-jarige Conway is in Johannesburg gebore en hy het ook krieket vir die Gautengse provinsiale span gespeel. Hy het egter verlede jaar sy Nieu-Seelandse verblyfreg gekry en is onmiddellik ’n nasionale kontrak aangebied.

“Ons het nog altyd geweet dat Devon ’n baie spesiale speler is, maar hy speel tans ongelooflike krieket,” het die Nieu-Seelandse afrigter Gary Stead gesê.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer.”

O, waarom het Krieket Suid-Afrika hom deur sy vingers laat glip.

  • Die voorste T20-kolwers soos op 1 April 2021:
  1. Dawid Malan (Engeland)
  2. Aaron Finch (Australië)
  3. Babar Azam (Pakistan)
  4. Devon Conway (Nieu-Seeland)
  5. Virat Kholi (Indië)
  6. Lokesh Rahul (Indië)
  7. Rassie van der Dussen (Suid-Afrika)
  8. Glenn Maxwell (Australië)
  9. Martin Guptill (Nieu-Seeland)
  10. Hazratullah Zazai (Afganistan)
  • Suid-Afrika se Tabraiz Shamsi is steeds die voorste T20-bouler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Steve ·

Die gevolg van die rassisme en BEE beleid van die rassistiese anc. Dis hoekom hierdie hool met sy spelers wat nie vir skoolspanne sal kwalifiseer nie, nooit weer enige iets sal wen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.