Conway slaan Aussies wild en wakker

Devon Conway. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Nieu-Seeland was vandag kniediep in die moeilikheid met hul telling op 19/3 in die eerste T20-kragmeting teen Australië in Hamilton.

Martin Guptil en Kane Williamson was reeds terug in die kleedkamer, maar dankie tog daar is ’n Suid-Afrikaans gebore speler byderhand wanneer jy hom nodig het!

Devon Conway het 99 onoorwonne lopies geslaan en sy pragbeurt het 13 grenshoue ingesluit. Hy het uiteindelik toegesien dat die tuisspan 184/5 in hul toegelate 20 boulbeurte opgestapel het.

Die 29-jarige Conway is in Johannesburg gebore en hy het ook krieket vir die Gautengse provinsiale span gespeel. Hy het egter verlede jaar sy Nieu-Seelandse verblyfreg gekry en is onmiddellik ’n nasionale kontrak aangebied.

En ’n mens kan verstaan waarom die Kiwi’s so gaande oor hom is.

In 21 eersterangse wedstryde vir Wellington het hy 2008 lopies teen ’n gemiddeld van 69,24 geslaan. In witbalkrieket is hy ewe gevaarlik: Sy 1 071 T20-lopies word teen ’n gemiddeld van 53,55 aangeteken terwyl hy met ’n hoogste telling van 105 spog.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer,” het Luke Ronchi, die Kiwi’s se kolfafrigter gesê.

Conway het in sy sewe internasionale T20-wedstryde reeds 273 lopies teen ’n gemiddeld van 91 gemoker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Sjoe, ongelooflike gemiddelde. T20 gemiddeldes is mos gewoonlik hier in die diep twintigs! Maar, moet darem, erken NZ se velde is maar kleinerig.

Chrisp ·

Mooi man mag jy nog groter hoogtes bereik hier in SA sou jy baie moontlik nie internasionaal kon deelneem nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.