Conway uit met gebreekte hand ná kolfvuishou

Devon Conway het uit pure frustrasie na sy kolf geslaan toe hy in die halfeindstryd teen Engeland uitgehaal is. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Devon Conway was baie teleurgesteld toe hy Woensdagaand vir 46 deur Jos Buttler van Liam Livingstone se boulwerk gestonk is en uit pure frustrasie het hy sy kolf met sy vuis bygedam.

X-strale het sedertdien bevestig dat hy sy hand in die proses gebreek het en hy sal Sondag se eindstryd teen Australië misloop. Hy sal ook nie deel van die Kiwi-toerspan na Indië wees nie.

“Devon is ongelooflik teleurgesteld om op só ’n manier die eindstryd mis te loop. Hy is mal daaroor om krieket vir die Swartpette te speel en ons almal probeer om hom op te beur,” het Gary Stead (Nieu-Seeland-afrigter) gesê.

Volgens Stead het hulle aanvanklik nie veel aandag aan Conway se reaksie geskenk nie.

“Sy hand het die kolf op net die verkeerde plek getref. Ja, dit was waarskynlik nie die slimste ding wat hy al aangevang het nie, maar dit is ongetwyfeld ’n fratsongeluk.”

Die 30-jarige Conway se krieketloopbaan gaan van krag tot krag sedert hy Suid-Afrika vir Nieu-Seeland verruil het.

Sedert hy verblyfreg in Nieu-Seeland gekry het, het hy 200 lopies in sy toetsbuiging teen Engeland op Lord’s aangeteken, terwyl sy kolfgemiddeld in eendagkrieket 75 is.

Ons het nog altyd geweet Devon is ’n baie spesiale speler, maar hy speel tans ongelooflike krieket,” het Stead al vantevore gesê.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopdwing.”

Hoewel hy ’n stillerige T20-Wêreldbekerveldtog het, het sy beurt teen Engeland (saam met dié van Mitchell en Jimmy Neesham) ’n deurslaggewende rol in die Kiwi’s se halfeindstrydsege gespeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.