Conway, Wagner deel van Kiwi’s se suksesverhaal

Neil Wagner vier ’n paaltjie. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Nieu-Seeland het gister vir die eerste keer in sy krieketgeskiedenis ’n Internasionale Krieketraad-trofee omhoog gehou toe hulle vir Indië met agt paaltjies in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap in Southampton geklop het.

Die Kiwi’s moes 139 lopies op die finale dag se spel vir ’n oorwinning aanteken en nadat Ravichandran Ashwin van Tom Latham (9) en Devon Conway (19) ontslae geraak het, het Kane Williamson (52) en Ross Taylor (47) vasgeskop en met ’n onoorwonne vennootskap van 96 lopies die wedstryd vir Nieu-Seeland beklink.

Williamson het ná die tyd sy span geloof en gesê dat dit ’n ongelooflike gevoel is om uiteindelik met die silwerware huis toe te keer.

Nieu-Seeland het in die afgelope ruk – maar sonder enige sukses – in die eindstryde van twee Wêreldbeker-kriekettoernooie (in 2015 teen Australië en in 2019 teen Engeland) gespeel.

Foto: Twitter.

“Dit is ’n baie spesiale geleentheid en ’n ongelooflike gevoel om uiteindelik te wen. Dit is ’n trotse oomblik vir ons as span en dit is ’n trotse oomblik in ons land se krieketgeskiedenis,” het Williamson gesê.

Daar was drie Suid-Afrikaans-gebore spelers in die Kiwi’s se span vir die eindstryd.

Neil Wagner het onder meer die paaltjies van Ajinkya Rahane en Shubman Gill geneem, terwyl Conway ’n vyftigtal in die eerste beurt aangeteken het.

BJ Watling het in sy laaste internasionale wedstryd vyf kolwers agter die paaltjies uitgevang om verby MS Dhoni op die lys van die wêreld se suksesvolste paaltjiewagters te beweeg.

“Dit is wonderlik om deel van die Wêreldtoetskrieket-eindstryd te wees en dit is ’n uitstekende sege vir die Swartpette,” het Conway op sosiale media gedeel.

Nóg ’n Suid-Afrikaans-gebore Nieu-Seelandse krieketster, Grant Elliot, het die span se lof besing.

“Nieu-Seeland het gewys wat nederigheid en harde werk beteken, terwyl hulle toewyding aan hul mekaar sowel as hul ondersteuners bewys het. Hulle is ’n Wêreldkampioenspan op elke gebied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.