Cook stabiliseer Engelse kolfbeurt met sy 82*

Engeland kan na die vele reën onderbrekings op die eerste dag van die derde kriekettoets op die Oval, dankie sê aan sy aanvangskolwer Alastair Cook en vir die maagkiem wat Vernon Philander platgetrek het.

Cook het op ʼn dag waar net 59 beurte geboul kon word nadat spel ʼn paar keer weens reën onderbreek is, een van sy tipiese vegtersbeurte gespeel – interessant maar allermins aanskoulik.

Hy het sy span grootliks gehelp om die dag op 171/4 af te sluit en sal Vrydag op 82 kom voortkolf.

Die Proteas staan dus redelik stewig, en die onvermoë van die Engelse kolwers om die buitengewone beweging van die naat af baas te raak op die blad waar dit ongewoon is, voorspel niks goeds vir die res van hulle kolfbeurt nie.

Maar speel en mis speel, met die wolke en die kolfblad wat more anders daar kan uitsien, beteken nie hulle is reeds hokgeslaan nie.

Philander het net vier boulbeurte afgestuur, vir Keaton Jennings vir nul uitgehaal en toe eers weer halfpad deur die middagsessie begin om die Engelse kolwers te frustreer.

Kagiso Rabada was aanvanklik nie op sy beste nie, maar die laat, feitlik onspeelbare laat inswaaiende streepbal na Dawid Malan in sý debuuttoets het vir Rabada se ietwat teleurstellende oggendsessie vergoed.

Morné Morkel en Chris Morris  het albei uitstekende balle afgestuur en die kolwers telkens geklop, maar die druk is deur hul effense bont boulwerk verslap.

Cook se 82 sluit wel tien viere in, en was ʼn goeie voorbeeld van geduld en toeslaan op die swakker balle. Dit was ook die benadering van die normaalweg aanvallende Ben Stokes wat Engeland uit die gat op 120/2 help grawe het.

Vrydag gaan ʼn baie interessante dag se krieket oplewer – mits die reën wegbly.

Klik hier om die volledige telkaart en statistiek te sien: http://www.espncricinfo.com/series/10718/game/1031441/England-vs-South-Africa-3rd-Test-Basil-DOliveira-Trophy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.