Covid-19 belemmer Keegan se NS-planne

Keegan Petersen. Foto: Hansie Linde.

’n Positiewe toets vir Covid-19 beteken dat die talentvolle Keegan Petersen nie saam met die Proteas na Nieu-Seeland sal reis nie.

Die 28-jarige Petersen was die Suid-Afrikaners se voorste kolwer in die pasvoltooide reeks teen Indië. Hy het onder moeilike omstandighede 276 lopies teen ’n gemiddeld van 46 geslaan en was op sy gemak teen die Indiese snelaanval.

Veral sy houe op die agtervoet deur die dekveld het vriend en vyand beïndruk en AB de Villiers was een van die sterre wat sy lof besing het.

“Om ’n lang storie kort te maak: Keegan Petersen kán speel. Ek is beïndruk met sy kalm houding, vaardigheid en tegniek teen een van die beste boulaanvalle ter wêreld,” het die oudkaptein getwiet.

Krieket Suid-Afrika het in ’n verklaring gesê dat die kolwer “asimptomaties” is, maar dat ’n mediese span met hom in kontak sal bly.

Petersen se plek in die toergroep word nou deur Zubayr Hamza gevul, terwyl ander kolwers soos Sarel Erwee en Ryan Rickelton ook deel van die oorspronklike spelersgroep was.

Die 26-jarige Hamza het die Proteas reeds in vyf toetse verteenwoordig waarin hy 181 lopies teen ’n gemiddeld van 18,10 geslaan het.

Sy eersterangse gemiddeld is egter ’n stewige 46,78.

Daarteenoor spog Erwee met ’n eersterangse gemiddeld van 39,01, terwyl Rickelton (52,50) drie honderdtalle in sy laaste vyf beurte gemoker het.

Die Proteas vertrek later vandag na Nieu-Seeland en ná ’n kwarantynperiode van tien dae sal die eerste toets op 17 Februarie in Christchurch begin.

Nuwe Protea-groep: Dean Elgar (kaptein), Temba Bavuma, Sarel Erwee, Zubayr Hamza, Simon Harmer, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Duanne Olivier, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Lutho Sipamla, Glenton Stuurman, Rassie van der Dussen en Kyle Verreynne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.