Covid-19 noop krieket om anders te dink oor bal poets

Shane Warne. Foto: Twitter.

Wanneer ’n span moet veldwerk doen tydens ’n krieketwedstryd is daar altyd een of twee spelers wat kliphard werk om die een kant van die bal blink te hou.

Die twee gebruik gewoonlik hul sweet of spoeg om die bal mee blink te poets, of as jy Australië se Cameron Bancroft is, kan skuurpapier ook die ding doen.

Die rede waarom dié blinkpoetswerk so ernstig geneem word, is omdat dit help met die swaai van ’n krieketbal.

Kortweg beteken dit die kant wat blink gevryf is bied minder weerstand teen die wind, terwyl die ruwer gedeelte natuurlik vir ’n bietjie meer weerstand sorg. Sodoende help die wind en die blink/ruwe kant van die bal dan met ’n bouler se in- of uitswaaiers.

In die Covid-19-era kan die gebruik van spoeg en sweet taboe wees om die een kant van ’n krieketbal mee blink te poets. Met ander woorde, swaai kan iets van die verlede wees indien iemand nie met ’n slim plan vorendag kom nie.

Argieffoto.

Kookaburra, die firma wat die balle vervaardig waarmee daar toetskrieket in Australië en Suid-Afrika gespeel word, het met ’n soort politoer vorendag gekom wat met ’n sponsie aangewend kan word.

Volgens Brett Elliot van dié kriekettoerusting-vervaardiger kan die politoer binnekort beskikbaar wees.

“Dit is egter nog nie in ’n wedstrydsituasie getoets nie,” het hy gesê.

Daarteenoor het die legendariese Aussie-bybreekbouler, Shane Warne, na rolbal gekyk om die swaai-probleem op te los.

Warne stel voor dat een kant van die bal sommer vanuit die staanspoor swaarder as die ander kant moet wees; amper soos wat in rolbal gebruik word, of ’n tennisbal wat met kleefband toegedraai is.

“Dit sal vir ’n goeie tweestryd tussen kolwers en boulers sorg. Ek glo dit sal ’n naatbouler beslis help op ’n warm dag wanneer die kolfblad op sy makste is,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae