Covid-vrese kelder vyfde toets

Indië se krieketspan vóór die vierde toets op die Oval. Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP.

Die vyfde toets tussen Engeland en Indië wat vandag op Old Trafford moes begin, is afgestel. Die drama kom nadat een van die Indiese bestuurspanlede, Yogesh Parmar (fisioterapeut), Woensdag positief vir Covid-19 getoets het.

“Uit vrees vir ’n verdere toename in die aantal positiewe Covid-gevalle in hul groep, kan Indië ongelukkig nie ’n span opstel nie,” het die Engelse krieketraad (ECB) in ’n verklaring gesê.

Al die Indiese spelers het gister negatief vir die virus getoets, maar volgens Cricinfo is van hulle huiwerig om te speel omdat hulle in kontak met Parmar was.

Benewens Parmar het Ravi Shastri (afrigter) ook vroeër positief vir die virus getoets, terwyl van die ander afrigters in isolasie is.

Die Indiërs is 2-1 voor in die reeks nadat hulle die vorige toets met 157 lopies op die Oval gewen het. Die vraag is nou of Engeland as die wenners van die beslissende toets aangewys sal word omdat daar aanvanklik gesê is dat die besoekers die wedstryd verbeur het.

Nasser Hussain, die voormalige Engelse kaptein, het gesê dat hy simpatie met Indiese spelers het omdat hul fisioterapeute onder die positiewe gevalle tel.

“ ’n Fisioterapeut is beslis in gereelde kontak met spelers. Selfs al het al die spelers nou negatief getoets, beteken die inkubasietydperk dat hulle dalk positief tydens die wedstryd sal toets,” het Hussain gesê.

Nóg ’n oudkaptein, Michael Vaughan, was egter minder toegeeflik.

“Indië het Engelse krieket in die steek gelaat, maar in dieselfde asem het Engeland ook Suid-Afrikaanse krieket teleurgestel,” het Vaughan getwiet.

Covid-19 het vroeër hul eendagreeks teen die Proteas in die wiele gery.

Met die Indiese Premierliga wat binnekort hervat word, het Kevin Pietersen gevra of die Indiese spelers dan ook die eerste wedstryde sal misloop omdat hulle in kwarantyn is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Dis net redelik gerieflik om te kanselleer siende dat dit die laaste toets is en hulle voorloop in die reeks. Hmmmm……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.