Crawley, Buttler deel pak slae uit

Engeland se Zak Crawley. Foto: Twitter.

“Wie wen?” is gewoonlik nie ’n vraag wat met sekerheid ná die tweede dag se spel van ’n kriekettoets beantwoord kan word nie.

Drie dae se spel lê nog voor, daar moet nog amper 300 boulbeurte afgestuur word en die kolfblad kan ’n groot invloed op die uitslag van die spel hê.

Maar ná die tweede dag se spel van die derde toets tussen Engeland en Pakistan in Southampton kan jy redelik seker wees watter span hierdie wedstryd kan wen.

Teen uitskeityd het Joe Root se span hul eerste beurt op 583/8 verklaar, terwyl drie vinnige paaltjies gesorg het dat die besoekers op 24/3 gesteier het.

Vir Engeland was dit ’n perfekte dag van toetskrieket: Zak Crawley (267) het skitterend met Jos Buttler (152) gekombineer om die wind uit Pakistan se seile te slaan.

Engeland was effens in die knyp met hul telling op 127/4, met Joe Root en Ollie Pope reeds terug in die kleedkamer.

Crawley en Buttler het egter die kastaiings uit die vuur gekrap met ’n reuse-vennootskap van 359 lopies.

Vreemd genoeg het Crawley vinniger as Buttler, ’n gevaarlike speler in witbalkrieket, gekolf. Hy het altesaam 35 grenshoue in sy beurt geslaan. Dit was die 22-jarige kolwer se agtste toets.

Met 11 boulbeurte op die dag oor, het Root die beurt verklaar en sy boulers het onder die Pakistanse kolwers baljaar.

Veral die 38-jarige James Anderson het amok gemaak en van die besoekers se twee openingskolwers ontslae geraak.

Hy het met die laaste aflewering van die dag egter die grootste slag geslaan toe hy Pakistan se beste kolwer, Babar Azam, been voor paaltjie betrap het.

Pakistan is nog 559 lopies agter Engeland se eerstebeurt-telling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.