Curran in sop ná Bavuma-paaltjie

Sam Curran. Foto: Marco Longari/AFP.

Sam Curran is met 15% van sy wedstrydgeld beboet nadat die Internasionale Krieketraad (IKR) bevind het dat sy feesvieringe té oordrewe was toe hy Temba Bavuma se paaltjie in die tweede eendagwedstryd in Bloemfontein geneem het.

Die 24-jarige Engelsman – wat die speler van die toernooi by die onlangse T20-Wêreldbeker in Australië was – is ook ʼn strafpunt opgelê. Indien ʼn speler vier van hierdie punte oor ʼn tydperk van twee jaar bymekaarmaak, kan hy geskors word.

Curran het Bavuma in die 28ste boulbeurt van die wedstryd skoongeboul toe die Suid-Afrikaanse kolwer ʼn opportunistiese hou bo-oor die paaltjiewagter se kop wou speel.

Die Proteas het toe reeds 174 lopies op die telbord gehad en danksy Bavuma se skitterbeurt was hul lopiejaagtog goed op koers.

Curran se frustrasievlakke was duidelik te hoog en hy het met sy hande uitgestrek in die rigting van die Protea-kaptein gehardloop.

Die IKR het die feesvieringe as “buitensporig” bestempel en ook aangevoer dat dit moontlik ʼn aggressiewe reaksie by Bavuma kon ontlok.

Die derde en laaste wedstryd in die reeks word vandag in Kimberley beslis. Die aksie begin om 13:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.