Dag 1 eindig gelykop in Durban

Foto: ANA/Krieket SA

Australië het die reeks teen Suid-Afrika op die regte noot begin deur die loot op ʼn warm en sonskyndag in Durban te wen. Die kaptein van Australië, Steve Smith, het besluit om eerste te kolf. Die Proteas het die toets met sewe kolwers, drie snelboulers en een draaibalbouler aangepak.

Die Aussies het hul eerste paaltjie met die totaal op 15 verloor (Bancroft 5) en hul tweede op 39. Vernon Philander het die eerste deurbraak bewerkstellig en net voor middagete het hy verseker die eerste skof behoort aan die Proteas toe hy ook van David Warner ontslae geraak het vir 51 lopies. Die Aussies het gaan eet op 95/3 (27bb). Kagiso Rabada het die ander paaltjie ingeoes toe hy Khawaja (14) agter die paaltjies deur De Kock laat uitvang het. Steven Smith was met ete op 24 nun.

Die eerste deel van die middagskof het aan Steve Smith behoort wat saam met Shaun Marsh die lopies opgestapel het. Ongelukkig het die Proteas reeds vroeg beide hul TV-verwysings sonder sukses gebruik, anders was daar nog ʼn paaltjie of wat plat. Uiteindelik het Smith sy paaltjie vir 56 verloor toe hy ʼn randjie bygekry het van ʼn aflewering van Maharaj (151/4 van 49.4 bb). Teen teetyd was Australië op 170/4 (56 bb) met die Marsh-broers voor die penne.

Ná teetyd het Maharaj weer toegeslaan en vir Shaun Marsh met 40 lopies agter sy naam laat terugstap kleedkamer toe met die totaal op 177/5 (58.4 bb). Die boul- en veldwerk van Suid-Afrika was aanvanklik goed in die sessie en die druk is deurentyd op die Aussies gehou.

Die lig in Durban was, soos in die verlede, weer ʼn faktor, en spel is ná 76 boulbeurte gestaak. Die Aussies was teen uitskeityd op 225/5. Paine (21) en Mitchell Marsh (32) sal Vrydag die beurt voortsit. Philander het 2 paaltjies vir 36 lopies met die bal geneem en Maharaj 2 vir 69.

In die geheel gesien was dit ʼn kop-aan-kop-dag vir die twee spanne. Die eerste sessie op dag twee sal fyn dopgehou word om te sien watter span kry sy neus voor! Die Proteas is net vier boulbeurte weg van die nuwe bal wat hulle baie goed sal moet inspan om die Aussies te beperk tot minder as 300 lopies.

Dag twee is geskeduleer om Vrydag om 10:00 op Kingsmead in Durban te begin.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.