David Miller slaan vinnigste kitshonderdtal in wêreldkrieket

Nog een! David Miller kyk die bal agterna met sy soveelste ses in sy rekord-kolfbeurt. (Foto Twitter @OfficialCSA)

David Miller. Dit is eintlik maar al wat van die laaste wedstryd teen Bangladesj op hulle segelose toer van sewe wedstryde onthou sal word.

Miller het Sondag op Potchefstroom die T20-rekordboeke vir internasionale wedstryde herskryf toe hy sy honderdtal in net 35 balle aangeteken het.

Daarmee het hy die rekord van die Proteas se kits-aanvangskolwer Richard Levi, wat in 2012 in Nieu-Seeland net 45 balle benodig het vir sy honderdtal, met gemak verbygesteek.

Miller se honderdtal het nege sesse en sewe viere ingesluit. Hy het ook die amperse onmoontlike reggekry toe hy in die een boulbeurt vyf sesse van die eerste vyf balle af geslaan het.

Daar was ook die hartseer vir die toerspan in die kolfbeurt, want Miller is laat val voordat hy ʼn enkele lopie aangeteken het! En hy is kort daarna ook byna uitgehardloop.

Faf du Plessis, wat in 2015 sy honderdtal in 46 balle in Wes-Indië geslaan het, skuif nou af na derde plek op die lys van die wêreld se vinnigste T20-honderdtalle – en dan hou AB de Villiers met sy honderdtal in net 31 balle, ook in 2015 in Wes-Indië, boonop ook die wêreld se eendaagse rekord!

♦  Maar dit was nie net Miller nie. Hashim Amla het die proteas se kolfbeurt met ʼn uitstekende 85 (11 viere, een ses, 51 balle) op koers gekry. Suid-Afrika het die wedstryd met 83 lopies gewen.

Miller het nog ʼn lopie van die enigste bal na sy honderdtal bygevoeg voordat die Proteas se kolfbeurt verby was.

Toe hy met sy telling op 101 nun van die veld gestap het, het hy sy arm om die arme bouler Mohammad Saifuddin geslaan toe dié hom kom gelukwens het met die vyf sesse in een beurt van sy boulwerk af.

Daar is ʼn bietjie gepraat, blad geskud en uit hulle gebare is jy feitlik seker dat die gesprek gegaan het oor die uitruil van hul kriekethemde na die wedstryd.

♦  Bangladesj het uit die staanspoor in hulle kolfbeurt geen kans gehad nie. Toe Imrul Kayes boonop vir ses lopies uitgehardloop is (21/1) en van die kolwers hul paaltjies weggesmyt het, het die pynlike toer vir Bangladesj tot ʼn welkome einde gekom.

AB de Villiers se 20 in 15 balle is die enigste ander sinvolle bydrae in die Proteas se kolfbeurt van 224/4. Vir die besoekers het Soumya Sarkar (22 in 27 balle), Mahmudullah (24 in 20 balle) en Mohammad Saifuddin (23 in 26 balle) skaflike bydraes tot hulle 141 almal uit in 18.3 boulbeurte gelewer.

Die tien Bangladesj-paaltjies is tussen die Proteas se ses boulers gedeel, met JP Duminy (2/23) en Aaron Phangiso (2/31) se draaiballe wat die besoekers die meeste laat kopkrap het.

Vir die volledige telkaart en statistiek, klik op http://www.espncricinfo.com/series/10904/game/1075508/South-Africa-vs-Bangladesh-2nd-T20I-bangladesh-in-south-africa-t20i-series/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.