De Kock bly Faf is terug

Faf du Plessis. Foto: ANA.

Die voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein, Faf du Plessis, is saam met Anrich Nortjé en Kagiso Rabada nadergetrek vir die komende T20-reeks teen Australië.

Die 35-jarige Du Plessis het weliswaar afstand van sy rol as die Proteas se toets- en T20-kaptein gedoen, maar hy is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se beste witbalkrieketspelers ooit.

In sy 44 internasionale T20-wedstryde spog hy met ’n gemiddeld van 35,86 en ’n treftempo van byna 136 lopies per 100 aflewerings. Boonop het hy sy hoogste telling  – 119 van 56 balle – ’n paar seisoene gelede op die einste Wanderers geslaan.

“Dit is baie lekker om hom terug in die span te hê en hy is opgewonde oor sy pad vorentoe,” het Suid-Afrika se nuwe T20-kaptein, Quinton de Kock, gesê.

“Ons het nog nie met mekaar gesels nie, maar hy verstaan dat hy  steeds ’n groot rol het om vir ons te speel. Hy word nog steeds as ’n leier gesien en hy is een van die meer senior spelers in ons span.

“Faf het nog baie om te bied. So eenvoudig is dit.”

En anders as in die verlede het Du Plessis nou net een doelwit voor oë: Om soveel lopies as moontlik vir die Proteas te slaan.

  • Die aksie begin vanaand om 18:00 op die Wanderers in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.