De Kock gaan vir eers ’n blaaskans neem

Quinton de Kock. Foto: Sajjad Hussain/AFP.

Quinton de Kock, Suid-Afrika se witbal- en tydelike toetskrieketkaptein, sal die komende plaaslike T20-reeks misloop.

Volgens die krieketwebblad Cricinfo sal die 28-jarige talentvolle paaltjiewagter die kort blaaskans op die aandrang van medici neem. Hy sal weer vir aksie gereed wees wanneer Pakistan in April na Suid-Afrika toer.

Die nuus is deur Andrew Breetzke, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (SACA), bevestig.

“SACA en Krieket Suid-Afrika (KSA) sal voortgaan om hom gedurende die tydperk te ondersteun,” het Breetzke gesê.

De Kock is waarskynlik die beste speler in die huidige Protea-span. Hy is verlede jaar as Suid-Afrika se speler van die jaar aangewys, terwyl hy die kapteinskapleisels by Faf du Plessis op die eendagverhoog oorgeneem het.

En met KSA wat sloer om ’n nuwe toetskaptein aan te wys, het hy ook hierdie tydelike verpligting gedurende die toer na Pakistan op sy skouers geneem.

Maar waar sommige spelers soos Steve Waugh, Mike Brearley en Graeme Smith die bykomende druk verwelkom, het De Kock met tye gelyk asof hy nie die tydelike rol geniet nie.

Sy veldplasings en spel het onder kritici in Pakistan deurgeloop.

Hy het die reeks met ’n gemiddeld van 11,50 afgesluit, terwyl hy ook met ’n paar vangskote agter die paaltjies misgetas het.

Hy is een van die talentvolste spelers in wêreldkrieket. (Foto: AP Photo/Halden Krog)

Die Protea-afrigter, Mark Boucher, het wel gesê dat die tweede toets in Rawalpindi De Kock se laaste een aan die stuur van die Proteas was.

“Ons weet dat Quinny ’n uitstekende speler is en dat ’n goeie beurt waarskynlik net om die draai is. Daarbenewens rus die bykomende verantwoordelikheid van toetskaptein ook op sy skouers; dit is taai en iets waaraan hy nie gewoond is nie,” het Boucher gesê.

Dan kan die lewe in bio-veilige omgewings ook sy tol geëis het.

De Kock het al in vorige onderhoude gesê dat dit moeilik is om aan die streng regulasies gewoond te raak.

Die plaaslike mik-en-mokerreeks sal van 19-29 Februarie in Durban plaasvind en die spelers sal weer eens in ’n bio-veilige omgewing moet bly.

Dalk is die blaaskans die perfekte doepa. Om De Kock op volle vaart te sien kolf is een van min plesiertjies in Suid-Afrikaanse krieket oor die afgelope paar jaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Los die klomp Protea ‘loosers’ en kom maak net geld in die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.