De Kock hou IPL-trofee omhoog

Die Mumbai Indians het die IPL-toernooi gewen. Foto: Twitter.

Trofees in internasionale uitkloptoernooie mag dalk so skaars soos hoendertande vir die Proteas wees, maar ten minste het Suid-Afrika se witbalkrieketkaptein gisteraand die IPL-trofee omhoog gehou.

De Kock en sy Mumbai Indians-spanmaats is die wenner van die 2020 Indiese Premierliga nadat hulle die Delhi Capitals met vyf paaltjies geklop het.

Die Delhi-span het eerste gekolf, maar was reeds vroeg op die agtervoet danksy ’n skittervertoning deur Trent Boult (3/30). Die Nieu-Seelandse snelbouler het sommer gou van gevaarmanne soos Marcus Stoinis (0) en Ajinkya Rahane (2) ontslae geraak; De Kock het al twee kolwers agter die paaltjies uitgevang.

Shreyas Iyer (65) en Rishabh Pant (56) het egter goed terugbaklei en hul vennootskap van 96 lopies het gesorg dat die Capitals 156/7 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

’n Groot bohaai is vooraf oor Kagiso Rabada se boulwerk gemaak. Hy het voor gisteraand se wedstryd reeds 29 paaltjies in die toernooi laat spat, maar anders as Boult sukkel hy aan die begin van ’n kolfbeurt en De Kock het munt daaruit geslaan.

Quinton de Kock en Rohit Sharma stap uit om die kolfwerk vir Mumbai te open. Foto: Twitter.

Die linkshandige kolwer het 14 lopies van sy landgenoot se eerste boulbeurt geslaan en hoewel hy kort daarna vir 20 lopies uitgehaal is, het hy die fondament vir Mumbai se lopiejaagtog gelê. Rohit Sharma (68) en Ishan Kishan (33) het daarna die wa deur die drif getrek vir die Indians.

Anrich Nortjé het weer eens beïndruk en sy toernooi met ’n boulontleding van 2/25 afgesluit.

Die Mumbai-span van 2020 is ’n spesiale eenheid: Die voormalige Engeland-kaptein Michael Vaughn het byvoorbeeld gesê dat hulle ook die internasionale T20-Wêreldbeker sou kon wen as hulle toegelaat was om daarin te speel, terwyl Kieron Pollard ook dink dat hulle die beste mik-en-moker-span ter wêreld is.

“As jy na al die silwerware (vyf IPL-bekers) en die aantal spelers kyk wat internasionale krieket gaan speel het, kan jy ongetwyfeld sê dat Mumbai die beste T20-franchise ter wêreld is,” het Pollard gesê.

  • Toekenningwenners:

Waardevolste speler: Jofra Archer van die Rajasthan Royals. Hy het 20 paaltjies geneem, vyf vangskote benut en tien sesse geslaan.

Meeste lopies: KL Rahul van die Kings XI Punjab. Hy het 670 lopies teen ’n gemiddeld van 55,83 en ’n treftempo van 129,34 aangeteken. Sy beurte het 58 viere en 23 sesse ingesluit.

Meeste paaltjies: Kagiso Rabada van die Delhi Capitals. Hy het 30 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18,26 geneem. Hy het 8,34 lopies per boulbeurt afgestaan.

Kragspel-speler van die seisoen: Trent Boult van die Mumbai Indians. Die linkshandige snelbouler het 16 van sy 25 paaltjies in die eerste paar boulbeurte van die wedstryd geneem.

Meeste sesse: Ishan Kishan van die Mumbai Indians met sy 30 sesse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mauritz ·

Een van die min Suid-Afrikaanse spelers wat my nog opgewonde maak. Eerstens omdat hy ‘n briljante speler is en tweedens omdat hy (tot dusver) nie ‘n beginsellose kniebuiger is nie.

piet-van-die-namib ·

Ek stem saam met Mauritz. De Kock is ‘n nederige krieketspeler wat baie hard gewerk het om te bereik wat hy vandag is. Dankie Quinton dat jy nog nie die knie gebuig het nie en dit nooit sal doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.