Quinton de Kock was ongetwyfeld die Proteas se bestendigste speler oor die afgelope paar reekse – sy ster het gereeld die helderste geskyn, terwyl sy aanvallende kolfwerk gereeld die kastaiings uit die vuur moes krap.
Suid-Afrika se nuwe kaptein in witbalkrieket het die meeste benoemings vir Krieket Suid-Afrika se jaarlikse toekenningsaand bymekaar gemaak.
Die aggressiewe paaltjiewagter kan op 4 Julie met ses toekennings wegstap. Hy is onder andere vir die toetsspeler van die jaar, sowel as die speler van die jaar benoem.
Verder het hy as kolwer sy stempel afgedruk en was hy die voorste lopiemaker in die toets- en eendagreeks teen die Engelse toerspan. In die T20-reeks het net Eoin Morgan meer lopies as hy geslaan.
Hy het ook sy voete as kaptein teen Australië gevind. Die Protea-span het onder sy aanvoering die reeks met 3 – 0 beklink, terwyl jong sterre soos Kyle Verreynne en Janneman Malan ook hul kanse in die De Kock-era benut het.
Die opwindende Anrich Nortjé is ook vir ’n paar toekennings benoem; hy het vanjaar met sy vaart en kanniedood-houding beïndruk. Dan is Heinrich Klaasen – wat ’n skitterende honderdtal teen Australië geslaan het – saam met De Kock en Lungi Ngidi die benoemdes in die eendagspeler van die jaar-kategorie.
Die benoemings:
- Internasionale T20-speler van die jaar: Temba Bavuma, Quinton de Kock en Lungi Ngidi.
- Internasionale eendagkrieketspeler van die jaar: Quinton de Kock, Heinrich Klaasen en Lungi Ngidi.
- Toetskrieketspeler van die jaar: Quinton de Kock, Anrich Nortjé en Kagiso Rabada.
- Spelers se speler van die jaar: Quinton de Kock en David Miller.
- Aflewering van die jaar: Marizanne Kapp, Anrich Nortjé en Vernon Philander.
- KFC Streetwise-toekenning: Mignon du Preez, Lungi Ngidi en Laura Wolvaardt.
- Internasionale T20-speler van die jaar (vroue): Nadine de Klerk, Shabnim Ismail en Lizelle Lee.
Internasionale eendagkrieketspeler van die jaar (vroue): Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka en Laura Wolvaardt.
- Spelers se speler van die jaar (vroue): Shabnim Ismail, Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp.
- Ondersteuners se speler van die jaar: Suné Luus, Laura Wolvaardt, Ayabonga Khaka, Mignon du Preez, Shabnim Ismail, Marizanne Kapp, Tabraiz Shamsi, David Miller, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada, Quinton de Kock en Anrich Nortjé.
- Speler van die jaar (vroue): Shabnim Ismail, Lizelle Lee en Laura Wolvaardt.
- Speler van die jaar: Quinton de Kock, Lungi Ngidi en Anrich Nortjé.
Harde werk word beloon. Beslis ook my gunsteling.