De Kock maak trots met puik 100-tal

Quinton de Kock (11 Junie 2021) (Foto: Randy Brooks/AFP)

Die Quinton de Kock van ouds is terug!

Die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter het ’n paar moeilike maande agter die blad: Die Proteas het ’n hele paar wedstryde onder sy leiding verloor en hy dit was duidelik dat hy nie die verantwoordelikheid van kapteinskap geniet nie.

Hy is intussen van die kapteinskap gestroop en hy het gister die nuutgevonde vryheid met ’n skitterende honderdtal teen die Windies op St. Lucia gevier.

De Kock het stadig begin, maar soos wat die paaltjies om hom geval het, het hy losgebrand en die een grenshou ná die ander gemoker.

Negentien grenshoue (waaronder sewe sesse) en 141 onoorwonne lopies later het die 28-jarige speler toegesien dat die Proteas ’n voorsprong van 225 lopies ná hul eerste beurt geniet het.

Dit was die sesde honderdtal van sy loopbaan en hy het die mylpaal op ’n unieke wyse gevier: Sy kolf is gedraai sodat die plakker van Rockwood – ’n organisasie wat met renosterbewaring help – trots pryk, terwyl hy ook ’n gebaar met sy regterhand gemaak het.

Volgens De Kock het hy een van sy vriende – wie se vinger in Afganistan afgeskiet is – gesalueer.

Hy was voor die toets die ook enigste Suid-Afrikaanse speler wat nie gekniel het of sy vuis in die lug gehou het nie.

Dean Elgar, die Proteas se nuwe toetskaptein, het op die vooraand van die wedstryd gesê dat individuele spelers self kan besluit of hulle wil kniel of staande bly in die reeks.

“Dit was my persoonlike keuse. Soos wat Lungi (Ngidi) vroeër gesê het, is dit almal se individuele besluit. Niemand word gedwing om iets te doen nie. Nie in die lewe nie. Dit is hoe ek dinge sien,” het De Kock gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Windies 97/10: Lungi Ngidi 5/19 en Anrich Nortjé 4/35

Proteas 322/10: Quinton de Kock 141* en Aiden Markram 60

Windies 82/4: Kagiso Rabada 2/18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Mooi so de Kock. Jy steur jou nie aan beuselagtighede nie. Die spreek woord sê “Small thing amuses small minds” Jammer daar is soveel manne saam met jou met small minds.

Dirk Mostert

Bly die Proteas is weer in vorm.

Willem

Mooi de Kock. Baie trots op jou

Anel

En dit is hoekom jy uit styg bo die ander. Mooi so.

Manie

Goeie bewys dat jy op jou voete moet wees om te kan krieket speel en nie op die knië nie.