De Kock, Philander maak ranglysspronge

Quinton de Kock. Foto: Krieket SA/ANA

Na afloop van die Proteas se skittersege van 107 lopies in die eerste toets teen Engeland op SuperSportpark in Centurion het verskeie spelers ook op ’n individuele basis goed gedoen.

Quinton de Kock se pragbeurt van 95 in die Proteas se eerste kolfpoging beteken dat hy weer onder die toptien‑ internasionale toetskolwers tel. Hy het ook ses vangskote in een beurt agter die paaltjies benut en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Dan het Vernon Philander se 4/16 (in 14,2 boulbeurte) gesorg dat hy nou in sy laaste internasionale reeks die vyfde beste bouler ter wêreld is, terwyl hy ook die vierde voorste veelsydige speler is.

Anrich Nortjé, wat met sy vaart en aggressie beïndruk het, tel nou onder die 100 beste boulers op die Internasionale Krieketraad se boulranglys.

Intussen behoort Pieter Malan môre sy toetsdebuut te maak nadat Aiden Markram sy vinger in die Centurion-toets gebreek het.

Die 30-jarige Malan speel al sedert 2007 eersterangse krieket in Suid-Afrika en is tans een van die Cobras se sterre. In 148 eersterangse wedstryde het hy 10 161 lopies teen ’n sterk gemiddeld van 45 geslaan.

“Pieter Malan was van die begin in ons toetsgroep vir hierdie reeks. Om nou met ’n baie belangrike posisie soos openingskolwer rond te speel, sal nie baie slim wees nie. Hy het oor ’n lang tydperk baie goed gespeel en boonop is Nuweland sy tuisgrond,” het Mark Boucher (afrigter) gesê.

Indien Malan vir Markram in die elftal vervang, kan dinge nogal moeilik wees vanuit ’n transformasie-oogpunt.

Temba Bavuma. Foto: ANA.

In die SuperSportpark-toets was daar net vier spelers van kleur in die span – Kagiso Rabada, Philander, Keshav Maharaj en Zubayr Hamza.

Keegan Petersen is nadergetrek – hy het ’n honderdtal vir Suid-Afrika A teen die Engelse geslaan – terwyl Temba Bavuma moontlik nog nie ten volle van sy besering herstel het nie.

“Ek verstaan dat Temba onder baie druk verkeer het en ek wil hom nie vir die wolwe gooi nie.  Hy is ’n baie goeie speler.

“Ons verstaan transformasie en ons verstaan dat ons hard saam met ’n klomp spelers moet werk, veral veelsydige spelers.”

  • Toptien‑ internasionale toetskolwers:
  1. Virat Kohli (Indië)
  2. Steve Smith (Australië)
  3. Kane Williamson (Nieu-Seeland)
  4. Marnus Labuschagne (Australië)
  5. Cheteshwar Pujara (Indië)
  6. Babar Azam (Pakistan)
  7. Ajinkya Rahane (Indië)
  8. David Warner (Australië)
  9. Joe Root (Engeland)
  10. Quinton de Kock (Suid-Afrika)
  • Toptien‑ internasionale toetsboulers:
  1. Pat Cummins (Australië)
  2. Neil Wagner (Nieu-Seeland)
  3. Kagiso Rabada (Suid-Afrika)
  4. Jason Holder (Wes-Indië)
  5. Vernon Philander (Suid-Afrika)
  6. Jasprit Bumrah (Indië)
  7. Mitchell Starc (Australië)
  8. Josh Hazlewood (Australië)
  9. Ravichandran Ashwin (Indië)
  10. Mohammad Sami (Indië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.